Senwes Scenario Oktober / November 2017 | Page 55

•••••••
KOS VIR DIE SIEL •••

Hoe praat jy ?

LEES : Spreuke 15
DS . WILLIE BOTHA
EEN VAN DIE EIENSKAPPE WAT MENSWEES UNIEK MAAK , IS DAT ONS KAN PRAAT . DAT ONS NIE NET WOORDE VIR VERSKILLENDE BETEKENISSE GEBRUIK NIE , MAAR DAT DIE WYSE WAAR­ OP ONS DIE WOORDE SÊ , OP SIGSELF VAN WAARDE IS . INTONASIE EN VERAL LIGGAAMSHOUDING , STAAN NIE LOS VAN DIE KOMMUNIKASIEPROSES NIE . OOK IN DIE BYBEL WORD BAIE KLEM GEPLAAS OP WAT ONS SÊ , EN HOE ONS SÊ .

Spreuke 15 het nogal iets oor ons praatgewoontes te sê : Reeds in die eerste vers word ’ n belangrike stelling gemaak . “’ n Sagte antwoord laat die woede bedaar ; ’ n krenkende woord laat woede ontvlam .” Die waarheid van hierdie stelling sal elkeen met lewenservaring kan beaam . Hoe dikwels bevind ons onsself nie in ’ n konfliksituasie waar woorde roekeloos rondgeslinger word nie . Die gevolg daarvan is dat ons dikwels agterna verskoning vir ons optrede moet vra . Tog kry mens diegene wat oor die sonderlinge vermoë beskik om kalm en in beheer van hulle emosies te bly . Hierdie persone kry reg wat Einstein by geleentheid na verwys het - dat om ’ n probleem op te los moet die oplossing op ’ n hoër vlak plaasvind as wat die konflik in die eerste instansie ontstaan het . Om kwetsend in die hitte van die stryd te praat , het waarskynlik tot gevolg dat ons nie goed luister nie , en ons dikwels ons eie selfsugtige behoeftes eerste wil stel . Ons wil ons uitdruk ten koste daarvan om inligting in te neem . Konflik kan ’ n geleentheid wees om die verhouding te laat groei , maar min dinge kan meer destruktief wees as swak hanteerde konflik . Sagpraat is nie ’ n teken van swakheid in konflik nie , maar iemand wat beheer oor sy of haar kommunikasie kan uitoefen .

Net ’ n bietjie verder in vers 4 word dieselfde gedagte verder gevoer : “ Kalmerende woorde bring lewe , skynheilige woorde breek mense .” Dit is insiggewend hoe die Bybel vir Almal dit ver- taal : “ Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan , dan laat hy mense lewe , maar wanneer hy dinge sê wat vals is , dan maak hy mense moedeloos .” Ons kan praat om dit beter te laat gaan . Agter hierdie stelling van die Spreukedigter hoor ons ’ n ander ingesteldheid . Die agenda van hierdie persoon is om op te hef . Om te kalmeer , en die situasie te ontlont . Daarteenoor is iemand wat skynheilig is , vals , en hy maak mense moedeloos .
Dalk word hoe ons praat die beste beklemtoon deur vers 2 . “ Wanneer wyse mense praat , dan leer ’ n mens , en dit is lekker . Maar wanneer dwase praat , dan sê hulle net dom dinge .” In die denke van die digter stel jy jouself bekend deur die wyse waarop jy praat . Uiteindelik gaan gesprek oor wat jy sê en hoe jy sê , en wat jy nie sê nie , en hoe jy sê wat jy nie sê nie . Daaruit maak ander mense , reg of verkeerd , die afleiding of ons wys of dwaas is .
SENWES Scenario • OKT / NOV 2017 53