Senwes Scenario Junie / Julie 2017 | Page 50

••••
' N BOER MAAK ' N PLAN

My ontspanning kom in gedrang !

LEES : Eksodus 20:8-11 en 1 Konings 19:1-8
DS . CAREL BOTMA
48

Dit is nie toevallig dat ’ n voertuig verskillende ratte het nie . Die ratkas is so ontwerp dat die voertuig deur die verwisseling van die ratte onder veranderende omstandighede en terreine maksimale werkverrigting kan hê . En so is dit onder andere ook die doel van die sabbat . Naas die feit dat hierdie dag geheilig moet word tot die eer van God , het God ook die sabbat by die skeppingsorde ingebou terwille van die mens . In Sy alwysheid het God geweet dat die mens ook van ratte moet kan verwissel . Soos wat Hy Hom op die sewende dag verlustig het in sy handewerk , so moet daar vir die mens tye aanbreek waarin hy kan rus , maar ook met ’ n behaaglikheid kan terugkyk op ’ n periode van harde werk .

Maar nou kla so baie as manlief byvoorbeeld na slegs drie of vier dae by die see met mag en mening wil teruggaan huis toe . Hierdie klagtes is nie maar net praatjies in die wind nie . My navorsing het getoon dat ons nie meer weet hoe om vakansie te hou nie ! Dit is wel so dat die meeste van ons jaarliks verlof neem , maar daar is min of geen kwaliteit nie . Vakansies het meganies geword - daar word nie meer aan die beplanning van vakansies aandag gegee nie . Dit is elke jaar dieselfde roetine , plek en gesigte . Daar is geen variasie of kreatiwiteit in hetsy die beplanning , of die vakansie self nie . Gepaardgaande hiermee is dat die meeste mense klaarblyklik nie
JUN / JUL 2017 • SENWES Scenario
kan of wil afskakel wanneer hulle met vakansie gaan nie . Dit is die gevolg van probleme wat saam met die strandhanddoek ingepak word . Uiteindelik gaan die ekonomie , stakings by die werk , die siek bul en witroes op die aartappels ook saam !
Wanneer jy al die onnodige bagasie oral saamdra , sal die belangrik ste rus vir die mens nooit kan plaasvind nie , naamlik emosionele of psigiese rus . Vakansies word jou vyand in plaas van ’ n hulpmiddel waarmee jy emosionele reserwes kan aanvul . Die onvermoë om die ratte te verwissel en ook emosioneel af te skakel , sal die individu meer kwesbaar maak vir verdere stres .
Op hierdie punt dink ’ n mens aan Elia . Eers moes hy vir drie jaar as ’ n verstekeling by die weduwee in Sarfat bly uit vrees vir Agab nadat hy die droogte oor die land aangekondig het . Toe moes hy vlug vir sy lewe nadat hy al die Baälprofete laat doodmaak het en Isebel sy kop geëis het . Om ’ n profeet van God te wees is nie net fisies harde werk nie , maar hy word ook intens aan emosionele ontberings blootgestel . ’ n Mens kan jou voorstel dat Elia moeg , uitgeput en emosioneel ’ n laagtepunt bereik het . “ Nou is dit genoeg , Here ! Neem my lewe ...” Maar dan tree God se versorging in . Elia moet rus en eet . “ Anders sal die pad vir jou te lank word . Toe staan hy op en eet , en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb , die berg van God .”
Soos wat God ons roep tot bekering en heiligmaking , so roep Hy ons ook om as mense binne ’ n gebroke werklikheid optimaal te funksioneer . Naas die feit dat ons moet leef , woon en werk tot eer van God se naam , gee God hierdie opdrag aan ons met nog ’ n doel voor oë . Hy wil graag hê dat die mens nie net sy lewe moet geniet nie , maar dat hy ook in sy lewe kwaliteit sal ervaar . Want ’ n mens wat lewenskwaliteit ervaar , sal in staat wees tot nog groter hoogtes van lofbetuiging aan God . En dit is die diepste rede en doel van ons menslike bestaan . Maar ten einde dit te kan doen , sal ons al ons beskikbare hulpbronne , soos onder andere ons emosionele veerkragtigheid of gehardheid , moet inspan . Maar soos jy weet , is die probleem van hulpbronne dat hulle uitgeput kan raak , en om hierdie hulpbronne te kan beskerm , het die mens verskillende vorms van rus nodig . As ons onsself dus hierd verwaarloos , sal ons nooit optimaal kan funksioneer nie , sal ons nooit hoë hoogtes bereik in terme van lofbetuiging aan God nie en is ons uiteindelik ongehoorsaam aan die gebod om die sabbat te heilig .
“ Elke dag bring vir my pyn en elke onderneming ergernis ; selfs snags kom ek nie tot rus nie ” ( Prediker 2:23 ).