ALGEMEEN
RUBRIEK
Uit die Woord
Dis tyd om dinge
anders te doen
A
lbert Einstein ontvang gewoonlik krediet vir die volgende
stelling: “Die definisie van gekheid is om dieselfde ding
oor en oor te doen, maar om telkens ander resultate te
verwag.” Alhoewel daar nog nooit bewys is dat Einstein
dit wel gesê het nie, maak dit nie regtig saak nie want almal weet
dat dit ’n waarheid is wat al oor en oor bewys is. Dink maar aan ’n
vlieg wat deur ’n toe venster probeer vlieg, oor en oor, totdat dit
uiteindelik vrek van uitputting.
Dit is 2019, dis ’n verkiesingsjaar en grondhervorming is die
onderwerp op almal se lippe. Ons Groep HUB, Francois Strydom,
het onlangs die punt gemaak dat “die wêreld deurmekaar is - kyk
maar na wat gebeur met Macron se Parys, Trump se Amerika,
ensovoorts, ensovoorts.”
Of dit nou die sikliese aard van die wêreld is, wat geneig is om
homself oor en oor te herhaal, deur hoogtepunte en laagtepunte te
gaan en dan weer alles te herhaal, en of ons onself in so ’n siklus
bevind, die punt is dat ons almal “die verandering moet wees wat
ons in die wêreld wil sien” - Mahatma Ghandi.
Hopelik het jy tyd oor die vakansie af gehad om bietjie voorraad te
neem van jou lewe, jou besigheid, jou verhoudings... en hopelik het
jy patrone geïdentifiseer wat nie die verlangde resultate oplewer
nie. Dit is nou tyd om jou gedrag te verander. ’n Boer het ’n intieme
en intuïtiewe verhouding met die grond en sy diere. Hy/sy kan
aanvoel wanneer dit tyd is om iets te verander, soos om lande te
laat oorlê, of meer kunsmis toe te dien, of ’n nuwe gewas te plant,
of met ’n verskillende soort lewendehawe
te teel.
Ons moet ook so na binne kyk en
ons eie geluk meet en aktief besluit
om 'n gelukkige, gebalanseerde
lewe te leef, in harmonie met al ons
gemeenskappe.
Ek hoop jy het’n
goeie plantseisoen
gehad en dat jou
oeste in 2019 oor
vloedig sal wees!
Marlon Abrahams
HOOFREDAKTEUR
02
SENWES SCENARIO | KOPSKUIF 2019
Kopskuif
Ds. Willie Botha
’N KOPSKUIF KAN ons ook ’n paradigmaskuif noem. Dit kom
daarop neer om jou invalshoek, denke en verstaan van ’n situ-
asie uit te daag. Dikwels is ’n kopskuif nodig wanneer omstan-
dighede skielik verander of wanneer ’n bestaande situasie ’n
kritiese punt bereik. Mense wat sukkel om kopskuiwe te maak,
voel baie keer dat hulle in ’n doodloopstraat beland het. Jy kan
letterlik voel asof jy jou vasgeloop het.
Miskien is dit presies wat die ervaring van die Israeliete was
toe die reus Goliat uit die geledere van die Filistyne na vore
geloop het. In hulle denke was daar nie ’n antwoord op wat
hulle voor hulle gesien het nie. En dan kom ’n doodgewone
skaapwagter op die toneel en hy kan glad nie sien wat nou
eintlik die probleem is nie. Dit is ’n voorbeeld van ’n kopskuif.
Gideon, wat in die parskuip bang wegkruip en die volgende
oomblik deur die engel dapper man genoem word, veroorsaak
’n kopskuif. Paulus, wat die een oomblik vervolger en die vol-
gende oomblik verkondiger van Christus word, is waarskynlik
een van die beste Nuwe Testamentiese voorbeelde. Niks kom
egter naby die kopskuif wat God vir ons gemaak het nie. In
plaas van die mens te veroordeel vir sy ongeregtigheid, stuur
Hy Jesus na die wêreld om ons ongeregtigheid te verander.
“Kopskuif” is ook die tema van ’n boek wat deur Dawie Smith,
bekende radiopersoonlikheid, leier en opvoedkundige, geskyf
is. Dit is ’n briljante boek wat kopskuif breedvoerig vanuit ’n
geestelike-, fisieke-, intellektuele- en emosionele vlak benader.
Sy invalshoek is dat die strepie (dash) tussen die geboorte- en
sterfdatum op jou grafsteen, die lewe is wat jy lewe. Dit is die
belangrikste deel en ons kan dit in ’n groot mate bestuur.
Indien jy jou denkhouding, gevoelens of jou gedrag wil ver
ander, kan jy gerus Dawie Smith se sewestap-veranderings- en
weerbaarheidsmodel oorweeg:
Stap 1: Bewuswording van die saak of probleem (Kop)
Stap 2: Erken die impak op jou lewe (Kop en Hart)
Stap 3: Oorweeg jou erns/brandende begeerte om te wil
verander (Hart)
Stap 4: Wat is jou opsies? (Kop)
Stap 5: Verbind jouself tot die gekose opsie (Kop en Hart)
Stap 6: Neem aksie (Hand) en volhard (Hart)
Stap 7: Gereelde bestekopname
Christene is egter nooit vasgeloop nie. Daar is ’n noue band
tussen Christelike hoop en kopskuiwe. As Christus deel van jou
lewe is, is jou lewensveranderinge ook nie sonder Christus nie.
Die Heilige Gees help ons om dit wat vir ons as moeilik, onge-
maklik en selfs onmoontlik voorkom, te vermag.