Senwes Scenario Februarie / Maart 2017 | Page 59

KOS VIR DIE SIEL •••
•••••••

In die beskerming van die Allerhoogste

LEES : Psalm 91
DS . WILLIE BOTHA
’ N JONG JOERNALIS HET ’ N OU BOER EENDAG GEVRA : “ HOE LAAT GAAN JY SOGGENS WERK TOE ? DIE BOER HET GEANTWOORD : “ EK GAAN NIE WERK TOE NIE . EK WORD OMRING DAARDEUR .” DIE JOERNALIS HET BESEF DAT DIE BOER SE WERK NIE DEUR TYD EN RUIMTE INGEPERK KAN WORD NIE . DIT IS IN ’ N GROOT MATE OOK DIE BOODSKAP VAN PSALM 91 .

Dié Psalm kan in ’ n paar hoofgedeeltes opgedeel word . In die inleidende gedeelte vind ons ’ n sterk stelling : “ Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet . Hy sê vir die Here : ‘ U is my toevlug en my veilige vesting , my God op wie ek vertrou .’” Letterlik word die woord vir skuiling met skadu vertaal . Dit was destyds ’ n algemene beeld wat met koning skap verband gehou het . Aangesien Psalms 90-100 oor die Koningskap van die Here handel , pas dit goed hier in . Om in iemand se skaduwee te sit , beteken noodwendig dat jy in daardie persoon se nabyheid , sy / haar teenwoordigheid is . Die inleiding wil derhalwe bevestig dat jy net veilig kan wees as jy op die Allerhoogste alleen vertrou .

In die tweede perikoop kry ons ’ n reeks versekerings wat hierop volg . Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en bewaar van dodelike siekte . Vrees vir gevaar in die nag en aanvalle oordag hoef die vertroueling op God nie lam te lê nie . Sou daar ’ n veldslag wees , sal die gelowige ongeskonde uit die stryd tree . God se beskerming word goed in vers 4 saamgevat : “ Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ' n veilige skuilplek . Sy trou beskerm jou aan alle kante .” God se teenwoordigheid word beklemtoon deur engele se beskerming .
Vir die leser of aanhoorder van die Psalm staan een ding uit : In die beskerming van die Allerhoogste hoef jy nie bang te wees nie . En wanneer jy vry van vrees lewe , kry jy dinge gedoen , het jy waagmoed , kan jy lewensvreugde ervaar , is daar nie iets wat jou energie wegvreet nie . Daar kom ’ n onverklaarbare kalmte en rus van gemoed oor jou .
Die laaste gedeelte van Psalm 91 is van die mooiste in die hele Bybel : “ Omdat hy My liefhet , sal Ek hom red ,” sê die Here , “ omdat hy My ken , sal Ek hom beskerm .
Wanneer hy My aanroep , sal Ek sy gebed verhoor ; in sy nood sal Ek by hom wees , Ek sal hom red en hom in sy eer herstel . ' n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly .”
Hierdie gedeelte beaam die feit dat nood deel van die lewe is , slegte dinge gebeur , maar wanneer ons in ons nood tot die Here roep , is dit net soos met Petrus wat besig was om onder die water in te sink . Hy sal ons red .
Hierdie gedig nooi ons uit om ons toevlug tot God te neem . Hy is soos die beeld van die boer wie se werk oral om hom is . Die Here is by ons en omdat Hy by ons is , sal ons nie struikel nie .
SENWES Scenario • FEB / MRT 2017 57