Senwes Scenario Februarie / Maart 2016 | Page 55

K O S V IR D IE SIE L ••• DS. WILLIE BOTHA DROOGTE... LEES: Jeremia 14; 1 Kor 13:9-12; Rom 8:28; Rom 5:1-5; Rom 8:35-39 I n Jeremia 14 het ons met ’n klaaglied oor droogte te doen. In die eerste gedeelte beskryf die profeet op ’n roerende manier die werklikheid van die droogte: Die gewone mense sit in rouklere, die vernames stuur hul slawe om water te gaan haal uit die put, maar hulle keer verslae en verleë terug. Die boere is moedeloos, hulle koppe hang. Selfs die takbokke kan nie hulle kleintjies grootmaak nie en ter wille van oorlewing moet die ma-diere na hulle eie behoud omsien. Die wilde donkies, wat besonder bestand was teen droogte, se oë word dof. Dit verskil nie baie van die tonele wat in die afgelope tyd in Suid-Afrika afgespeel het nie. Boere wat vir die eerste keer in hul lewe nie ’n pit in die grond sit nie. Veeboere wat beeste skiet omdat daar nie water en kos is nie en voer te duur is, die mark te swak is. Waar gewoonlik weiveld is, laat die naakte profiel van die landskap ’n byna onherkenbare plaas. Waar gewoonlik halfryp mielies staan, net die stof in die wind. Werkers wat afgedank moet word, sodat die besigheid kan oorleef. Gemoedere is laag, morbied en pessimisties. Selfs die kinders voel dit aan. Ook die mense in dorpe en stede begin besef dat hulle nie so onaantasbaar is as wat hulle gedink het nie. Talle dorpe se water is op. Die kos op die rakke kom uiteindelik uit die veld of van ’n land af. Op die radio en televisie hoor ons dat miljoene tonne graan ingevoer moet word. Ons geloofslewe word ook deur die droogte geraak. Ons kan nie verstaan hoekom God nie ons gebede verhoor nie. Hoe kan God toelaat dat diere en die natuur soveel moet ly? En mense? Daar is soveel faktore wat dit alreeds vir boerdery moeilik maak; het ons regtig nou hierdie ergste droogte in menseheugenis ook nodig? Het ons dalk iets verkeerd gedoen dat God besig is om ons te straf ? Die skrywer self stel die vraag so mooi aan God: “Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos ’n vreemdeling in die land, soos ’n reisiger wat net ’n nag oorbly? Waarom sou U wees soos ’n man wat verskrik staan, soos ’n soldaat wat nie in staat is om te help nie? U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie.” Die droogte in Jeremia 14 word aan Juda se ongehoorsaamheid toegeskryf. Daar was profete wat in die Naam van die Here opgetree het, maar God het hulle nie gestuur nie. Hierdie profete het valse voorspoed verkondig, en nou sal God hulle verkeerd bewys. Juda was ongehoorsaam aan God. Hulle het God net nodig gehad wanneer Hy nodig genoeg was. Vir ons is dit egter baie belangrik om nie die felle droogte wat ons nou verduur, aan God se straf toe te skryf nie. Ons hoef nie altyd te verstaan hoekom rampe, soos droogte, gebeur nie. Dit is eerder ’n tyd om weer ons afhanklikheid van God teenoor Hom te erken. Te besef dat God, ondanks die droogte, nog vir ons sal sorg en nog vir ons lief het. Oor die lang termyn is droogte goed vir die natuur. Dit laat die sterker diere en plante oorleef en veroorsaak dat die beste genetiese materiaal behoue bly. Dit is die natuur se manier om homself uit te sorteer. Die natuur laat die droogte vir hom werk. Dalk is dit ook ’n goeie tyd om ons verhouding met God in oënskou te neem. Dalk is dit nou die ideale tyd om jou verhouding met God uit te sorteer. Miskien is dit ’n geleentheid om weer te leer bid. In plaas daarvan om teen die droogte te rebelleer, moet ons die droogte toelaat om vir ons te werk. God toelaat om met die droogte in ons te werk. Op die lang termyn sal God alle dinge ten goede laat meewerk. Ons moet egter glo en weet dat, ondanks die droogte, God vir ons lief is en vir ons sal sorg. Wees ook maar baie versigtig om die droogte as God se straf te sien. Maak ook maar seker in jou lewe dat God nie net nodig is wanneer Hy nodig genoeg is nie… SENWES Scenario • Feb/Mrt 2016 53