Senwes Scenario Februarie / Maart 2015 | Page 54

••• KOS V I R D I E SI E L DS WILLIE BOTHA KOSBAARDER AS GOUD, SOETER AS HEUNING... LEES PSALM 19 PSALM 19 BESING DIE GROOTSHEID VAN GOD SE OPENBARING. IN DIE EERSTE GEDEELTE WORD DIE NATUUR AAN DIE ORDE GESTEL. ONS KRY PRAGTIGE VOORBEELDE VAN PERSONIFIKASIE. DIE HEMEL, DAG, NAG EN SON WORD AS MENSE VOORGESTEL. H ierdie natuurelemente is niks anders as sigbare verkondiging van God se majesteit nie. Die hemel maak die werk van sy hande bekend. Die dag en nag dra die boodskap aan ‘n volgende oor byna soos 52 die aangee van ‘n aflosatleet. Dit beklemtoon dat die skepping God se werk is. In Babilonië en Egipte is die son as god vereer, maar hier is die son slegs ten dienste van God. Selfs al word die son as ‘n bruidegom voorgestel, moet hy sy baan volg soos deur God vasgestel. Daagliks beweeg hy oor die hele uitspansel en dring sy hitte oral in. Op hierdie manier vertel die son van God se almag. Die son bring ook die natuur en die handelende mens bymekaar uit. Net soos wat die son in sy baan moet bly, is daar ook riglyne vir die menslike lewe. Hierdie riglyne word in die woord van God gevind. Onderwysings, bevele, gebooie, eise en bepalings is hier wisselvorme vir die wet of woord. Hierdie wisselvorme wil elkeen iets van die karakter van die wet weergee: die woord van die Here is volmaak; die Februarie/Maart 2015 • SENWES Scenario onderwysing is betroubaar; die bevele dui die regte koers aan; die gebod is helder; die eise van die Here is goed; die bepalings van die Here is reg. Hulle is kosbaarder as goud, soeter as heuning. Op verskeie maniere voeg dit waarde aan die menslike bestaan toe. Dit gee lewe; gee wysheid; bring blydskap; gee insig; en is regverdig. Aan die einde van hierdie paragraaf kom die belofte: Wie die woord van die Here onderhou, groot is sy beloning. So byvoorbeeld ontvang die vrome ‘n lang en gelukkige lewe. Dit moet egter eerder as ‘n geskenk van, as ‘n eis aan God gesien word. Die digter se reaksie op God se woord en skepping is dié van groot nederigheid. Teenoor die grootsheid van God steek sy onwetende en opsetlike sonde sleg af. Vandaar sy beskeie pleit aan die einde: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser. Ons is gelukkig om God se woord in ‘n veel vollediger formaat, as die digter van daardie tyd, tot ons beskikking te hê. Intussen het Jesus ook na die wêreld gekom en God op ‘n nuwe manier aan ons openbaar. Net so staan ons steeds in verwondering teenoor die groot dinge in die natuur. Mag ons in 2015 die grootsheid van die Here ons Verlosser besing, en terselfdertyd beskeie en nederig wees.