Senwes Scenario April / Mei 2015 | Page 70

••• VROUE D I N AM I K A DS. JACKIE VAN ZYL ‘N BRIEFIE VIR DIE MANNE I IN DIE VORIGE UITGAWE VAN SCENARIO HET EK ‘N BRIEFIE GESKRYF VIR DIE DAMES OOR HUL LIEFDE VIR HUL MANS. SO VANDAG IS DIT DIE MANNE SE BEURT. n 1 Korintiërs 7:2 sê Paulus dat elke man sy eie vrou moet hê en elke vrou haar eie man. Dus, as Paulus dan in Efesiërs 5:25 die volgende sê “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het”, dan bedoel hy dat elke man sy eie vrou SO lief moet hê. En die pragtige woorde wat Paulus in hierdie vers gebruik, getuig van ‘n onvoorwaardelike liefde soos min! Manne, as jy een maal belowe het om jou vrou lief te hê, dan geld dit net vir haar en vir geen ander vrou nie! Ja, ek weet ons dames beleef soms ‘n “onvoorspelbare broosheid” wat die lewe vir elke man minder maklik maak, maar jy het haar gekies en trou aan haar beloof met haar onvoorspelbare broosheid en al. Of jou vrou die lekkerste skaapnek kook en of jy elke dag brood eet, of jou vrou redelik of onredelik is, jy het haar gekies en daarom moet jy onvoorwaardelike liefde aan haar bewys. Onvoorwaardelike liefde is nie altyd maklik nie, maar weet julle hoeveel beteken ‘n drukkie op die regte tyd, of ‘n kompliment as sy moeite gedoen het? Selfs ‘n blommetjie of ‘n koppie tee na ‘n lang dag, ‘n gunsie as sy moeg is of net alleentyd saam met haar, kan vir vroulief die wêreld beteken. Doen iets spesiaal vir haar, bederf haar, sien haar seer raak, luister aandagtig wanneer sy met jou praat, stel haar behoeftes bo jou eie, koester haar hart en bo dit alles: wees verskriklik lief vir haar.