Plaastoe! Julie 2017 Uitgawe 17 | Page 51

MMOTOR

“ Ek sien nou die dag die vreemdste ding ,” vertel ’ n vriend ’ n handjievol jare gelede . “ Ry ek nog so teen die Michellspas af en daar kom ’ n Toyota Hilux aan wat ’ n Land Rover met ’ n stokstywe tou teen die pas uitstoot !”

Jy sal aan jou bakkie gereken word DEUR HEIN EKSTEEN

Met ’ n stokstywe tou ? En teen ’ n bergpas uitgestoot ? Ditsem . Omdat Toyotas nié gesleep word nie . En indien die witsous van ondenkbaarheid begin klonte maak , en ’ n Toyota moontlik ’ n bietjie hulp nodig kry , sal daardie Toyota alleenlik deur ’ n ánder Toyota gesleep word . Nimmerste nooit deur ’ n Land Rover nie . Ook nie deur ’ n Ford , of ’ n Mitsubishi , of ’ n Nissan , Izuzu , Tata of Mercedes nie . Nie eens deur ’ n Unimog nie . Dit is gelykstaande aan heiligskennis . Of só glo die Toyota-manne .

Natuurlik voel gelowiges in elke ander heilsleer presies dieselfde . Jy word immers aan jou viertrekbakkie gereken . Dit is jou identiteit hierdie . Die vere wat die voël vervolmaak .

Maar wat doen die groentjie ? Daardie pasbekeerde wat sy toetrede tot Suid-
Afrika se gewildste tydverdryf , veldry en kamp , maak . Swik hy voor groepsdruk en koop ’ n sekere handelsnaam bloot omdat sy pelle dit ry ?
Johannes Slabber , koringboer van Moorreesburg , het te wete , “ Ek ry net Fords . My oupa het hulle gery . So ook my pa . Hulle is betroubaar , kragtig , kan houe vat en is bekostigbaar . Maar ,” voeg hy by , “ My Conqueror Commander-karavaan sleep ek met die Fortuner .”
Aha ! Hier het ons te make met ’ n Dopper in ’ n Gaatjieponderstoga geklee .
“ Nee !” verdedig Johannes vinnig . “ Ek het net te veel kinders . Die spannetjie pas nie in ’ n dubbelkajuit nie .”
’ n Praktiese en weldeurdagte oorweging . En moontlik die beste benadering wanneer jy besluit watter soort bakkie se snoet jy in die rigting van die ou Kalahari en verder gaan druk .
Die bepalende faktore is legio . Indien jy oor die rykdom van die Zuptas beskik , kan jy met Volkswagen se nuwe Amarok 3.0 TDI V6 ( R748 600 ) van die toonvloer wegjaag . Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 ( R734 800 ) is jou tweede duurste keuse . Nader aan die onderkant is Fiat se herstileerde Mitsubishi Triton teen skuins onder ’ n halfmiljoen rand .
Maar nou sit jy met ’ n pasgebore voertuig wat , soos jy , naak die wêreld ingekom het en geensins bosgereed is nie . Geld is egter mos nie ’ n kwessie nie en jy laat daardie bosbrekerbuffers , die twee spaarwielswaaiarms , aluminiumkappie , laaistelsels , tweede-batterystelsel vir jou R15 000 ys- / vrieskas om die bier mee koud te hou , lag-lag toevoeg . Jy oorweeg sommer Mercedes se nuwe X-Klas as jou derde tjor . Ons is egter nie almal só nie . Minder sterflikes moet begroot en mooi dink . En straks noodgedwonge die tweedehandmark betree . Troebel water . Amper soos wanneer jy op Verlatenvlak deur ’ n rivier moet ry . Jy weet jy behoort eers voel-voel deur
Plaastoe ! July 2017 49