Land n Sand Oct / Nov 2013 | Page 29

en nog meer gebruik. Bo-oor het ek rooi lemoensakkies vasgemaak met wasgoedpennetjies. Ek moes twee sakkies gebruik, so daar was ’n oorvleueling en sowaar, van hulle het op stadige pas hulself daaruit gewriemel. Ek het my verbeel dat hulle depressief is oor hul situasie, maar dalk was dit net antropomorfiese gevoelens, want as jy snags by die tenk staan en fyn luister, hoor jy ’n genjars-njars-njars van blare wat beteken alles is reg … soort van. Ek kry dieselfde gevoel wanneer my katte hulle kospilletjies kners-knars. Ek glo dis die naaste wat ek ooit aan ’n moederlike instink sal kom. Terug by die slakvoorbereiding … die slaai-brood dieet hou aan vir drie dae (kan sekerlik ook langer aanhou). Hulle ontlas oral, so gee hulle ’n groot genoeg area. Moenie karton gebruik nie, hulle sal hulself daaruit eet-suig. Dag vier en vyf is die geheelonthoudingstydperk. Plaas hulle in ’n skoon houer, weereens met genoeg spasie. Die vorige keer toe ek die slakproses begin het, het ek op dié punt slymerige voete gekry. Ek het hulle uitgehonger en laat vrek. Nooit voorberei na die verhongering nie, weggegooi en baie skuldig gevoel. Dag ses breek aan. Die kolander is hulle nuwe tuiste en fyn sout omhels hulle. ’n Massa slym word afgeskei. Was hulle onder koue water af. Berei ’n groot pot kokende water met ’n bouquet garni, court-bouillon en een eetlepel asyn. Kook hulle vir 20 minute. Skep die slakke uit en verfris hulle met koue water. Kry dan ’n koekvurkie, hekelnaald of iets waarmee jy die diertjie kan uithaak uit die skulp. Ek het die eerste ses gedoen toe die naarheid my oorval. Hulle is tog diere en ek ’n kamma-vegetariër. My ander helfte het oorgeneem en nog 55 gedoen. Ek het botter gesmelt in ’n pan en hulle daar ingekantel en geroer vir so vyf minute. Toe ’n bietjie knoffel by gegooi en op geroosterde winkelbrood gesit. Hoe meer botter en knoffel, hoe lekkerder, maar natuurlik beteken dit meer kolesterol. Ek het ses gehad en kon nie meer nie. Kêrel het die res verorber. Volgens ’n onlangse artikel van Paul Cockerton in die Mirror, bevat die slak se slym hoogs benefisiele proteine, anti-oksidante en anti-bakteriee. Foto’s & Teks: Tania Bester ’n Slak kan tot tien keer sy eie gewig optel. 24 Mei is slakdag