Land n Sand Jan / Feb 2014 | Page 35

Ons parkeer agter die kompleks. Regs van ons is The Stilt Walkers van kunstenaar Dick Bisset wat laat loop langs die wingerde. Ons gaan lê op die gras, plat op ons rûe en neem foto’s. Gabriëlskloof is ’n spogplaas en huisves ’n restaurant, fynkoswinkel en wynproe en olyfproe area. Die perfekte plek vir ’n groot familiebyeenkoms, soos Ma en Pa se goue bruilof. Ons proe eers wyn. Foto: Xavier Nagel Na ’n rukkie se wag, het Bernhard kom wyn skink en gesels. Ons begin met hul Sauvignon Blanc en gaan voort met Rosebud (Shiraz/Voignier Rosé), The Blend (Bordeaux versnit) en ’n Shiraz. Die eksklusiewe reeks is Voignier, Magdalena (Semillon/Sauvignon), Five Arches (Bordeaux) en die Swartrivier Shiraz. Daar’s ’n MCC oppad. Ons proe olyfolie – koud-gepers van Coratina, Frantoio en Leccino olywe en met goue medaljes bekroon in die 2013 Suid Afrikaanse Olyfolie Toekennings, asook die ABSA 5. ’n Besonderse intense groen ontploffing wat dadelik verdere eksperimentasie met verskeie tipes brode en ander substrate in my smulpaap geestesoog oproep. Frans, sjef van Gabriëlskloof restaurant, gebruik dit vir kook sowel as in slaaisouse, en sê: “Gaan heerlik saam met ons selfgemaakte dukkah!” Na proe en koop, vat ons koers restaurant toe. Daar’s ’n paar groot tafels waar druk gekuier word. Ons sit op die stoep in die binnehof en kyk na kinders wat baljaar op die grasperk. ’n Plek vir families, want hier kan Ma en Pa jolig kuier en steeds ’n wakende oog hou. Frans Groenewald is meesterkok. Hy en sy vrou Mariaan is eienaars van die restaurant. Hul kookfilosofie: gebruik soveel en sover as moontlik plaaslike produkte. Ons bestel en ek besluit om ’n draai te maak by die delikatessewinkel. Restaurant en winkel maak hul gebak self (behalwe die croissants) en gebruik GM-vrye koring en meel uit die Caledon distrik.