kykNET Mei 2017 | Page 12

MARLO #SaraGeheim Rustige outjie van die Hoorn Hy was te sien in Boland Moorde en nou weer as Aiden Cloete in die nuwe dramareeks Sara se Geheim. Maar Marlo Minnaar is glad nie so nors soos van sy karakters nie, hoor! M 12 arlo Minnaar is iemand wat holderstebolder in sy karakters inklim – selfs ongure karakters speel hy met absolute oortuiging. Dis dalk dié dat vreemdelinge dink hy is nors. “Ja, hulle dink ek is afsydig,” sê die man wat die rol van Aiden Cloete vertolk in kykNET se splinternuwe dramareeks Sara se Geheim en ook tot onlangs in Boland Moorde te sien was. “Nee man, ek is ’n vriendelike bra.” Okei-okei, soms gaan die wag voor sy mond wel vroeg met ete... “I shoot from the hip, maar sal nooit mense doelbewus seermaak nie. Tog is party mense bang vir my; hulle dink dalk ek is kras.” kykNET | MEI 2017 Deur Haidee Muller Min mense weet hy is eintlik ’n diep denker, vertel dié 27-jarige Oudtshoorn- kind. “Maar ek neem myself darem nie te ernstig op nie.” Gepraat van ernstig, daar ís een slegte Marlo-eienskap wat moet weg, meen hy. “Ek vergeet of vergewe nie maklik nie. En ek kan nogal lank ’n grudge hou, maar ek werk hard om dit te verander.” Sy rol as Aiden was omtrent ’n emosio- nele reis, sê Marlo. Hy moes diep binne homself gaan krap. “Aiden is die oudste seun van Maggie Cloete (Lee-Ann van Rooi). Die storie gaan oor drie families en hulle geheime. Aiden, ’n student, word die meeste daar- deur geraak. Hy word vals beskuldig en moet sy naam in ere herstel.” Een van sy eie grootste vrese is om vals beskuldig te word. “En hier moes ek nou só iemand speel. Op die ou end soek Aiden ook maar net sy ma se waardering en aanvaarding.” MARLO IS ’N MA-KIND. Dié middel­ seun van Maureen en Christopher het op Oudts­hoorn grootgeword, maar is op Grootfontein in Namibië gebore waar sy ma se mense steeds woon. “Ek noem my ma my tjomma. Ons is baie geheg aan mekaar, nou meer as ooit tevore.” Pa Christopher is ’n afgetrede samma­joor en het in die laat jare tagtig met sy gesin na Oudtshoorn se weermag- basis getrek. “Dit was lekker dae, maar hy was streng. Ons het gekén van ’n sambokhou. My ma is sagter en dra haar hart op haar mou. Ek ook. Ek is stil, eintlik ’n loner. Ek huil gou – dis seker hoekom ek die kunste gekies het. Soms help die emosie om rolle beter te kan vertolk. “Ander se pyn trek ek my ook gou aan. Ek kan nie mense sien swaarkry nie. Sirië se oorlog maak my hartseer, die tik-oorlog in ons gemeenskappe maak my hartseer. En nou het ons gemeenskappe geword waar apatie aan die orde van die dag is. Almal kyk liewer anderpad.” AS JY WIL HÊ DIE WÊRELD moet veran­der, moet jy heel eerste by jouself begin, dít glo Marlo onomwonde. En al is sy vriendekring klein, koester hy hegte vriendskappe. “Ek sal berge versit vir my geliefdes. Ek is vrygewig en glo daaraan om te gee sonder om iets terug te verwag, want só groei jou eie seëninge.” Hy woon al agt jaar in die Kaap nadat hy sy dramastudie by Maties voltooi het. “As ek nou terugdink, besef ek hoeveel my ouers vir ons opgeoffer het. Ons was nie ryk nie, maar as dinge sleg gegaan het, het ons kinders dit nooit geweet nie.” Sy sammajoor-pa wou hê hy moes ook weermag toe, maar Marlo het in gr. 10 al besef sy hart lê op die planke. “Natuurlik was my pa nie happy nie, maar tog het hy ’n plan gemaak sodat my dramadrome kon waar word. Twee dae voordat ek op Stellenbosch moes wees, is hy eers bank toe. Toe hy daar uitstap, het hy net gesê: “Gaan pak jou goed. Ons ry.” Nou stroom die pluimpies in vir sy rol as die rentboy Lucky Marais in Santa Gamka uit Eben Venter se pen met Jaco Bouwer as regisseur. Daar is al onder meer ’n Fiësta vir Beste Solovertoning, drie Kannas vir Beste Grondverskuiwende Werk, Beste Regie en Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Produksie. Nou die dag het ’n Fleur du Cap ook bygekom – beste vertoning in ’n revue, kabaret of eenman- vertoning. “Santa Gamka is my eerste produksie wat so suksesvol is.” Die toekennings staan en blink op die TV-kas in sy sitkamer, vertel hy half verleë. “Ek waardeer die erkenning, maar dit gaan nie daaroor nie. Dis genoeg as jou vertoning mense raak of as mense hulle daarmee kan vereenselwig.” Hy het Eben se boek destyds met sy laaste geld gekoop – die storie het met hom gepráát. Hy wou met alle mag Lucky se storie vertel. “Elke keer as ek teruggaan Oudtshoorn toe, besef ek hoe min geleenthede daar vir Karoo-kinders is.” ‘Op die ou end soek Aiden ook maar net sy ma se waardering en aanvaarding.’ Hy en Lucky het op ’n manier baie met mekaar gemeen, sê Marlo. “Ek het die road less travelled geneem, nie geweet of dit my gaan maak of breek nie, maar ek wou geleenthede met albei hande aan- gryp. Hy ook tog.” Wat sê sy ma, Maureen, oor daai om­- strede tonele? “Sy weet ek klim in my karakters in en dis nie werklik ek nie. Sy wou net weet of dit nou regtig nodig was om my hele stert vir almal te wys, maar sy het dit baie geniet. Ek het haar aan die teaterwêreld voorgestel en sy is nou baie lief daarvoor.” AS DIE SLUWE TONY in die sepie 7de Laan het hy sake ook deurmekaar gekrap. “Daai was die eerste keer dat ek só ’n ou gespeel het. Gelukkig het niemand my agterna op straat kom klap nie. Dis ons werk om realiteite te wys, en ongeluk- kig is daar vele Tonys in die wêreld.” Enige taboes? “Rassisme en ongeregtigheid maak my moeilik. Ons is steeds so behep met kleur en ras. Jy moet respek hê vir jou mede- mens. Dis só belangrik.” Hy dink nié hy is die kat se snor nie. “Onthou wie vir jou daar was toe dinge swaar was. Ek is geleer dat jy altyd moet onthou waar jou wortels lê. Daarom wil ek iets terugploeg in my gemeenskap. Leiding en raad aan opkomende kunstenaars is kosbaar. Maar ek is nog besig met my eie reis; ek is nog nie waar ek moet wees nie.” Marlo sê hy praat gereeld met God wanneer hy langs die see gaan stap. “Ek is onder die sterreteken die Vis gebore en hou van water. Ek het ’n guardian angel. Ek het nog altyd sterk, gesond en heel anderkant uitgekom. Jou ouers se gebede wat jy nie hoor nie, dra jou deur.” Vandag koester hy die Karoo meer as ooit tevore. “Dis my ontvlugting, my kom- vandaan. Daar is ek net Marlo, ’n rustige outjie van die Hoorn. Ek haat konflik, maar moenie op my trap nie...” Vir meer inligting gaan na kyknet.dstv.com/ program/sara-se- geheim Marlo en Lee-Ann van Rooi, wat die rol van sy ma, Maggie Cloete, speel, op die stel van Sara se Geheim. Sarah se Geheim Dinsdae om 20:00 op kykNET, kanaal 144 MEI 2017 | kykNET 13