kykNET Junie 2017 - Page 34

#rubriek My pa se present M y pa was ’n man met ge- bre­ke, maar ek was lief vir hom. Al was hy stukkend, het die krake wat hy in my nagelaat het, ’n dieper tekstuur aan my menswees gegee. Hy was nie een vir konvensies nie. Enige hoofstroomdenke oor vaderskap het hy verwerp. ’n Metaforiese jurie sou hom skuldig kon bevind omdat hy my (en homself) by tye verwaarloos het, maar ek sal in ’n hof opstaan en vir hom getuig. Ek sal na die regter op sy hoë stoel omdraai en hardop sê: “Edelagbare, met die kwaliteit van sy liefde was daar nooit aste nimmer iéts verkeerd nie.” Daar sal ’n stilte in die oppersaal wees. Die regter sal die waarheid in my oë sien. Hy sal met sy hamer teen die lessenaar klop. Dit sal weergalm. Hy sal sonder om te skroom sê: “Jou pa is onskuldig, want hy het jou ook die waarde van genade geleer.” So ’n uitspraak sal mooi en goed wees, want in my kosbare tye met hierdie man het die meetsnoere vir my in lieflike plekke geval. Soos Die Bybel sê: My erfe- nis is vir my mooi. 34 SAM KORCK WAS ’N MAN met ’n liefde vir vinnige motors, mooi en kykNET | JUNIE 2017 Deur Herman Lategan moeilike vroue, en sterk whisky – altyd skoon, met twee blokkies ys. Hy en my ma, Maria Lategan, was nie getroud nie. In die jare sestig was dít in konserwatiewe Suid-Afrika waag- moedig. Hulle het ’n vet middelvinger na die establishment uitgehou, want dis hoe hulle was. Hulle verhouding was ver verby die grense van kompleks. Dit was morsig, maar passievol, soos die lewe. Hy het Gunston Toasted (sonder filter) gerook. Sy uniform was jeans, ’n leerbaad- jie, sy swart hare in ’n paadjie gekam met Brylcreem. Hy was lief vir uiteet, en dan het hy ’n pak gedra. Ek moes ook. The Shadows se “Apache” met die verlate cowboy-kitaarklanke was die agtergrondmusiek van sy lewe. Midnight Cowboy was sy fliek, want eintlik was hy ook een. Hy was eenkant en geknak, dit kon jy agterkom as hy te veel gedrink het. Hy en my ma het ’n woordewisseling gehad. Sy was opvlieënd – met goeie rede, by nabetragting. Die voordeur is toegeslaan. My pa is in ’n blou Anglia Super weg. Ek onthou nog hoe die bande geskree het. Toe is hy skoonveld. Ons dae het jare geword. My ma het vir my ’n verjaardagpartytjie gereël in ’n vriendin se motorhuis. Daar was koek, ballonne en hansworshoedjies op ons koppe. Net toe sy die paar kersies wou aansteek, hoor ons ’n motor. My pa het uit ’n rooi Ford Capri geklim, met ’n Aviator-donkerbril. Soos ’n cowboy, ja, het hy na my toe aangestap. Ek het na hom toe gehardloop en aan sy been geklou, want ek was klein. Hy was daardie dag my verjaardag­ geskenk. Sy eksentrieke gedrag en aweregse blik op die lewe sou vir my daarna ’n lewenslange present wees. Later het alkoholisme hom vernietig. Voor dit het hy my leer visvang, bestuur, vloek, altyd geld vir die armes gee en op Zorba the Greek se musiek te dans. Ek onthou nou nog die stampkarre by die Goodwood-skouterrein, die reuk van hot­ dogs en spookasem. Toe die tyding van sy vroeë dood op 47 kom, het ek eensaam in warm water gaan lê en in my eie trane gebad. Bo links Die verjaardag waar Herman se pa hom kom verras het.Bo regs By sy pa, Sam, en stiefma, Linda, by die Ritz Plaza-hotel in Seepunt, Kaapstad.