kykNET April 2017 | Page 34

Nobody ’ s Died Laughing , die kykNET Films-dokumentêr oor die lewe van Pieter-Dirk Uys , het onlangs met drie SAFTA-pryse weggestap , waaronder die toekenning vir die beste dokumentêre fliek .

# rubriek Wat is dit wat so kielie ?

Deur Pieter-Dirk Uys
34

Vir my is “ kielie ” die lekkerste woord in Afrikaans . Dít en “ gogga ”. Want as dit met my gebeur – as iemand dit waag om my te kielie – dan word ek lam van lekkerkry en kan nie ophou lag nie . Net ’ n hand met uitgestrekte vingers wat na my toe waai , kry al my giggelmasjientjie aan die hyg .

Wat my die meeste kielie , is domastrante politieke goggas . Ek ril sommer van lekkerkry as ek net die woord tik . K-i-e-l-i-e .
Dis wel jammer die helfte van die woord is in Engels nie ’ n plesierige geluid nie . K-i-l-l . En snaaks genoeg is my gelag nie omdat kielie iets snaaks is nie . Dis meer ’ n senuagtige reaksie vir iets wat vol lewe is – eintlik ’ n skrikkerige gedagte .
Vir my is komedie en humor twee verskillende dinge . Komedie kry jy in ’ n grap ; jy lag want dis daar om jou spiere te laat verslap . Dit kielie nie ; dit klap . En die enigste rede waarom jy dit onthou , is om
daardie grap oor te vertel . Maar humor ... dis soms erg persoonlik en selde snaaks . As iemand agter ’ n deur staan en jy loop die kamer binne en hulle spring uit met ’ n “ Boe !”, skrik jy eers jou melk weg , maar dan sien jy dis ’ n vriend of ’ n suster , en jy lag met ’ n groot sug van verligting . Snaaks ? Nee , maar dankie tog dis nie lewensgevaarlik nie .
Daardie suggie van plesier is eintlik ’ n waarskuwing : Donner , moet dit nie weer doen nie !
Humor is in die donker spelonke van vrees en wanhoop te vind . Mense in die Nazi-konsentrasiekampe het aan die lewe gebly deur donker humor , ten spyte van die hel om hulle . Vriende met vigs wat lag oor hulle planne vir ’ n lekker begrafnis – dit was in die dae toe daar nie uitkoms was nie – het bewys hoe belangrik humor kan wees as ’ n teengif vir opgee en padgee . ’ n Groot meerderheid gekleurde mense kon my ná 1994 teen ’ n muur druk en met ’ n paar skote bewys ek was verantwoordelik
vir hulle leed , maar hulle wou liewers met ’ n glimlag van humor saam loop na ’ n demokratiese wapenstilstand .
Waar is die kielie dan ? Humor is soms ’ n wapen van massaverwarring . Jou vyand is nie seker hoekom jy glimlag nie .
’ n Politikus met humor is ’ n hopelose teiken , want hulle lag eerste , vóórdat jy jou sarsie satire kan afvuur . Dankie tog vir die Oranje Geldgogga wat nou die Wit Huis bewoon . Oom Donald se velletjie is dunner as ’ n kondoom . Elke grap , elke spotprent , elke twiet lei tot ’ n totale uitrafeling met 140 karakters van verkrenking wat vinnig met sy klein pienk duimpie die wêreld ingestuur word . Dus : Kom ons maak grappe en laat waai met lawwighede , beledigings en aanvalle teen sy verlepte leierskap – en hou sodoende die donner vir die volgende vier jaar wakker . As hy so knaend moet twiet , sal hy mos nooit ’ n oog toemaak nie ! Hou net daardie kernvoetbal buite sy bereik . Nou dít kielie my van kop tot toon !
kykNET | APRIL 2017