kykNET April 2017 | Page 10

# SaraGeheim ‘ Dit sit hier binne-in my ’

Min Suid-Afrikaners weet nié wie June van Merch is nie – sy is immers ’ n bekende op die verhoog én voor die TV-kameras . In April sien kykers haar in die nuwe reeks Sara se Geheim .
Deur Haidee Muller
10

Die land brand , ons brand . Dís hoe June van Merch voel oor die Suid-Afrika van vandag . Die bekroonde 55-jarige aktrise vryf deur haar woeste krulhare , rol haar oë . Sy is doodernstig wanneer sy gesels oor haar politieke bewuswording , maar jy wil skaterlag as die oë begin rol – dié gebruik sy mos behoorlik .

“ Ek was in ’ n Ingelse Katolieke skool , doer in die seventies . Ons was passive resistant . Niks getoi-toi nie . Daar was stilte-tye . Dít was my politieke bewuswording ,’’ vertel sy by haar huis in die noordelike voorstede van Kaapstad .
Haar pa , Pieter , sê sy , het haar geleer om vir haarself op te staan . “ Maar altyd respectable , nè ?’’
Dis geen geheim dat haar studentejare op Stellenbosch vir haar aaklig was nie . Maar verbitterd is June nié . “ My ouers het my met trots soontoe gestuur ; dit was mos ’ n status-ding – ‘ my kind is ’ n Matie ’, jy sien ? Maar dit was k — en dit was ontnemend . Ons bruines kon nie op die kampus bly nie , nie die toiletgeriewe ge bruik nie , nie saam gaan dans by paarties nie . Absurd .
“ Ja , die skade sit nog hier iewers in my selletjies ,” sê sy . Grootoog weer . “ My wit medestudente het my darem ondersteun .” Tog bly sy dankbaar oor haar Matiejare , en bitter is sy beslis nie . “ Bitterheid benadeel jóú , terwyl die ander se lewe aangaan . Ek weier om met bagasie saam te leef .”
JUNE , DIE EEN WAT JY doer ver kan hoor lag , was te sien in trefferreekse soos Grondbaronne , Fishy Fêshuns , Onder Engele en meer onlangs Die Boekklub . En van 11 April af is sy die matriarg Sara Abrahams in kykNET se splinternuwe dramareeks , Sara se Geheim . Sara gee haar kind vir ’ n wit gesin om groot te maak en sy leef 35 jaar met ’ n donker geheim saam . “ Almal maak soms bepaalde keuses . In dié tyd het ek gebeure uit my eie lewe gaan herbesoek . Daar was die vrou in Wynberg by wie ek in st . 8 gebly het – sy
het seker meer as 10 kinders met ’ n ligte velkleur gehad , en een van hulle is Rhodesië toe waar hy hom wit laat verklaar het . As sy ouers daar gaan kuier het , moes hulle om die draai parkeer . Daai seun het daardie keuse gemaak ; sy ma het geen keuse gehad nie .
“ Maar nou maak Sara wel ’ n keuse : om haar kind te beskerm . Dis ’ n moeilike situasie ; dit gaan oor haar liefde vir haar kind . Ons kyk maar of die skandes wel sal uitkom ...”
Meer wil June nie verklap nie .
kykNET | APRIL 2017