Graslander Uitgawe 5: Verandering | Page 8

ARTIKEL Cobus Burger, SGS Hoofbestuurder GEBRUIK VAN PRESISIETEGNOLOGIE OM DIE EFFEKTIWITEIT VAN ‘N KALKTOEDIENING TE OPTIMALISEER Die reaksie op ‘n kalktoediening, kwaliteit van kalk vir eers geïgnoreer, is net so goed soos die inligting wat ingesamel is. Insetkoste bly styg en produkpryse verhoog nie as ‘n reël saam met die tendens op ‘n jaar-tot-jaar basis nie. Gevolglik is daar voortdurend ‘n kosteknyptangaksie en moet ons dus poog om vir die komende seisoen die maksimum opbrengs te verdien op ons belegging in kalktoedienings. pH(KCl) – kaart (357ha land) Roete 1 – pH(KCl) analise is 4.1 en kalkaanbeveling is 3.5 ton/ha x 357ha = 1 249 ton kalk Roete 2 – pH(KCl) analise is 4.9 en kalkaanbeveling is 1 ton/ha x 357ha = 357 ton kalk Variërende toediening (grid monstering) – Van 1 – 4.5 ton/ha = 2.6 ton/ha x 357ha = 928 ton kalk Die produsent wil redelik seker wees dat sy opbrengste sal verbeter waar hy wel kalk toegedien het vir die komende seisoen en nie eers in die tweede seisoen nie. Hier speel oplosbaarheid/ fynheid van kalk ‘n baie groot rol. Wanneer kalk toegedien word, word daar gekyk na die volgende aspekte: • pH gekombineer met uitruilbare suurheid en suurversadiging van die gronde. • Plantvoedingstowwe soos Ca en Mg se beskikbaarheid vir opname deur die gewas se wortelstelsel. • Om fisiese eienskappe van die bogrond te beïnvloed waar struktuurloosheid en/of dan die toeslaan van bogrond na ‘n goeie reënbui, aangespreek kan word. Bostaande drie punte kan alles met een bekalkingsaksie aangespreek word en dus moet ons nie net vir pH bekalk nie, want beskikbaarheid van bostaande nutriënte, asook goeie bogrond deurlugting beïnvloed ook opbrengsresultate. Grondontledingsinligting word aanbeveel in jou besluitneming ten opsigte van die hoeveelheid kalk, asook tipe kalk wat toegedien moet word. Daar is gewoonlik twee maniere waarop die grondinligting ingesamel word: • ‘n Gemiddelde grondontleding word per land geneem. • Presisietegnologie word gebruik om meer as een monster op ‘n ruitpatroon te neem en dan ‘n nutriëntkaart op te stel wat verskille in pH en nutriënte aandui. Dit kan dan verskillend aangespreek word met ‘n strooier. Die eerste opsie impliseer een peil regoor die hele land wat nie noodwendig dieselfde opbrengs op jou insette tot gevolg sal hê as wat ‘n variërende toediening van kalk teweeg kan bring nie. 6 Graslander September 2018 Tussen roete 1 en VRT is daar 321 ton kalk verskil op bestelling wat impliseer 321 ton kalk x R360/ ton = R115 560 meer vir jou kalkbestelling. Dit is nie so effektief as die goedkoper variërende opsie nie. Daarby is die opbrengs (die belangrikste deel van die aksie) op die insetkoste waarskynlik ook nie dieselfde is as ons kyk na uiteindelike opbrengsreaksie nie. Opsommend, ons moet poog om suurheid (identifiseer probleemkolle) in ons gronde so effektief as moontlik te neutraliseer deur te bekalk as die geleentheid hom voordoen. Dit is veral by ‘n pH(KCl) < 4.6 waar die aluminium in ons gronde begin beskikbaar raak en sodoende die uitruilbare suur + suurversadiging laat verhoog, waar ons opbrengste begin verloor. Gedurende midsomerdroogtes, wanneer ons dit die minste kan bekostig, droog bogronde uit en word aluminium die maklikste opgeneem deur ‘n gewas se wortels en die netto effek is vernietiging van ‘n eens aktiewe wortelstelsel met meegaande opbrengsverliese.