Graslander Uitgawe 1: Nampo | Page 8

TEGNIES GRONDSUURHEID: ‘N ERNSTIGE VORM VAN GRONDDEGRADASIE Grondsuurheid is een van die mees aktuele onderwerpe in grondkunde. Dit het ʼn groot invloed op groei van plante en grondorganismes. Hier word die oorsake van grondsuurheid van nader bekyk. Wat is grondsuurheid? ʼn Suur is ʼn chemiese stof wat in water dissosieer en ioniseer om H+ en ʼn geassosieerde anioon te produseer [HCl (soutsuur) → H+ + Cl-]. Daar is drie vorme van suur in grond: Aktiewe suur Aktiewe suur verteenwoordig die hoeveelheid H+ ione in die grondoplossing (water in die grond). Dit beïnvloed die omgewing waarin plantwortels en grondorganismes leef. Dit word by wyse van pH van die grondoplossing gemeet en word gedefinieer as pH = –log[H+]. Dit is ʼn logaritmiese funksie; dat die hoeveelheid H+ ione by pH 4.0 10 keer meer is as by pH 5.0 en 100 keer meer as by pH 6.0. Die hoeveelheid aktiewe suur is relatief min. Uitruilbare suur Dit het te doen met die hoeveelheid uitruilbare H+ en Al3+ in grond. Hierdie katione (positief gelaaide ione) adsorbeer aan die negatief gelaaide oppervlaktes van die grondkolloïdes (klei en humus). Dit kan maklik deur ongebufferde soute soos KCl uitgeruil word en beland in die grondoplossing. Die poel is baie groter as aktiewe suur. Die hoeveelheid kalk om uitruilbare suur te neutraliseer, is dikwels 100 keer meer as met aktiewe suur. Residuele suur Die residuele suur is suurheid wat weens aluminiumhidroksiedione [Al(OH)2+], H+ en Al3+ in nie-uitruilbare vorme aan humus en klei gebind word. Die poel is by verre die grootste. In sandgrond is dit maklik 1,000 keer meer as by aktiewe suur en in kleigrond 100,000 keer. Oorsake van grondsuurheid In bewerkte landerye is N-bemesting die grootste enkele oorsaak van versuring. Tydens die nitrifikasieproses word elke ammoniumioon (NH4+) na nitraat (NO3-) omgeskakel en 2H+ word geproduseer. Afbraakprodukte van organiese materiaal (fenoolsuur en karboksielsuur) dissosieer in water en daardeur word H+ vrygestel. Verweerde grond bevat aluminiumhidroksiedione [Al(OH)2+] en yster (Fe3+) wat hidroliseer en H+ vrystel. Wanneer klei verweer, word Al vrygestel wat hidroliseer en H+ vrystel. Misstowwe met soute verplaas Al3+ wat hidroliseer en H+ vrystel. Koolstofdioksied (CO2) word in die grond deur alle lewende organismes vrygestel. Suurreën vorm as fossielbrandstowwe verbrand om salpetersuur (HNO3) en swaelsuur (H2SO4) in die lug vry te stel. Dit los in reënwater op en beland in die grond. Nitraat (NO3-) wat loog neem ʼn katioon saam, wat weer met H+ in die bogrond vervang word. Gewasse neem katione (Ca+, Mg+ & K+) op in ruil vir H+ SAMEVATTING Grondversuring kom veral in gebiede voor met genoeg reënval vir kontantgewasverbouing. Talle natuurlike prosesse bring versuring mee, maar menslike aktiwiteite oortref die effek van natuurlike versuring. Té suur toestande benadeel plantegroei en moet geneutraliseer word. Saamgestel deur Martiens du Plessis. NWK Landboubestuursdienste. BRONNE Brady NC, 1990. The Nature and Properties of Soils. Tenth Edition. Macmillan Publishing Company. New York. Tisdale SL, Nelson WL, Beaton JD & Havlin JL, 1993. Soil Fertility and Fertilizers. Fifth edition. Macmillan Publishing Company. New York. 8 Graslander Maart 2016