flink ink | November 2017 | Page 18

FAK-nuus Kultuurleiers tydens historiese FAK Prestige-aand vereer Presies 500 jaar gelede op 31 Oktober 1517 het die Duitse monnik, Martin Luther, sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg-katedraal vasgespyker en met elke hamerslag is die aanvang van die Protestantse Reformasie luid aangekondig. D ié geskiedkundige gebeurtenis se enorme impak op die Westerse kultuur word vandag steeds ervaar en op 31 Oktober 2017 het die FAK tydens die jaarlikse Prestige-aand vier uitsonderlike kultuurleiers vereer vir hul besondere bydrae tot Afrikaans en Afrikanerkultuur. Die aand was weereens 'n luisterryke geleentheid wat ingewy is met pragtige orrelspel terwyl die kerkklokke van die NG Kerk Lyttelton moedergemeente in die agtergrond beier. Die sangtalent van Liezel Pieters en Chris Chameleon het gaste betower en opnuut laat besef hoe bevoorreg ons is om wêreldklas Afrikaanse sangtalent op ons voorstoep te kan geniet. Die FAK word getrou finansieel ondersteun deur 'Vriende' wat maandeliks bydraes lewer en daar word soms gewonder hoe hierdie bydraes aangewend word. Vanjaar is daar tydens die Prestige-aand 'n video vertoon wat kortliks die hoogtepunte van die FAK se bedrywighede ten toon gestel het. Ieder en elk van die gaste het na afloop van die geleentheid net weereens bevestig hoe trots hulle daarop is om te weet dat hulle deur hul getroue ondersteuning die FAK help om geld om te skakel in kulturele kapitaal, wat bydra tot die toekoms van ons taal, kultuur en geskiedenis. Die FAK het vanjaar vier persone vereer vir die merkwaardige bydraes wat elkeen van hulle op hul onderskeie gebied gelewer het tot die bevordering van die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur. Die ontvangers was: • Mnr. Flip Buys: FAK Prestige-toekenning vir uitnemende leierskap; • Prof. Abraham H. De Vries: NP van Wyk Louw Toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur; • Prof. Irma Eloff: HB en MJ Thom Prestige- toekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding; en • Me. Johanna van Eeden: FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaans in die media. Die aand is tradisioneel afgesluit met 'n gesellige saamkuier op die grasperke buite die kerkgebou waar gaste in vervoering was oor die liggies, kerse, wyn en heerlike eetgoedjies wat bedien is. Na afloop van die spoggeleentheid was almal dit eens: die FAK is dié kultuurorganisasie waar jy waarlik in hart en siel, tuis kan voel. 18 Die Afrikaanse TAALSKRIF