flink ink | November 2017 | Page 17

Groete van my – WOLWE-DANS DIT GEBEUR GEREELD DAT 'N SANGGROEP ONTSTAAN UIT 'N UNIVERSITEITSKOSHUIS SE SERENADEGROEP. Ladru Ehlers en Danré van der Spuy kom oorspronklik van twee heeltemal verskillende dele van die land, naamlik Heidelberg (Gauteng) en Amanzimtoti onderskeidelik, maar hulle het saam vir die serenadegroep van die Excelsior-manskoshuis by die Noordwes-Universiteit gesing en besluit om die sangpaar Wolwe-Dans te stig. Hul debuutalbum is getiteld Groete van my. Landru het die meeste snitte geskryf, onder meer die eerste snit, “Sterrekyk.” Die akoestiese klank van hierdie snit is uiters treffend, en gee 'n mens alreeds die indruk dat hierdie album iets besonders kan wees. Die volgende snit, “Ek kan jou myne noem”, gaan byna vir seker 'n treffer word; dit het 'n lekker ritme, goeie kitaarwerk en harmonieë en die trompet is iets heeltemal anders. “Sonsak” is een van die snitte waarvan daar reeds 'n musiekvideo gemaak is, en dit beteken dat dit 'n treffer behoort te word. Die “taalpuriste” sal egter nie daarvan hou dat die woorde “saam jou” in die lirieke voorkom nie. Dit is egter iets wat al hoe meer in Afrikaanse musiek voorkom. “Op wie jy kan vertrou” is effens rustiger as die ander snitte tot dusver, maar weer eens is dit 'n moontlike treffer. “Foutloos” het 'n akoestiese rock-klank en is 'n hoogtepunt vanaf die album. Die harmonieë op die titelsnit is eenvoudig uitstekend en die banjo in die agtergrond is iets besonders. “Kaap van liefde” is nog een van die beste snitte vanaf die album. Die akoestiese kitaarwerk op “Stoor- storie” is eenvoudig uitstekend. Daar is twee weergawes van “Trouliedjie” op die album ingesluit; die eerste een is 'n rock-weergawe. Dit gaan byna vir seker een van die treffers vanaf die album wees en gaan sommer binnekort op troues gehoor word. Die akoestiese kitaarwerk op “Wonderwerk” is baie goed en die woorde is iets anders as wat 'n mens sou verwag. “Ek het jou lief” is die eerste radiotreffer, en dis maklik om te verstaan hoekom. Die akoestiese weergawe van “Trouliedjie” is pragtig; 'n mens kan dink hoeveel bruide- gomme wat kitaar kan speel, sal dit op hul troudae vir hul vroue sing. Daar is deesdae min akoestiese rock-albums wat op 'n breë gehoor gemik is, en hierdie een is een van die bestes wat die afgelope tyd verskyn het. Dit kan baie sterk aanbeveel word vir enigiemand wat van goeie musiek hou en na iets meer op soek is as die kommersiële snert wat sommige radiostasies in luisteraars se keelgate afdruk. 1925 band kuier by die FAK. Klik op die video vir die volledige onderhoud Die Afrikaanse TAALSKRIF 17