flink ink | November 2017 | Page 12

FAK-NETWERK

123 Blok myself

Met die skryf van die artikel dink ek terug aan my grootwordjare . Wat doen jy op ' n plattelandse dorpie oor naweke of ' n hele vakansie tuis ? Daar was nie flieks , rekenaars , televisie , iPads , tablette en lekker winkels of koffiedrinkplekke om te besoek nie . Ons het op fietse rondgery , gelees en ja , gespeel . Verskillende speletjies soos blikaspaai , wegkruipertjie , brandbal , bok-in-die-hok en baie ander . As mens terugdink aan daardie kinderdae , koester mens wonderlike herinneringe . Herinneringe van buite speel tot donker , moeg wees , lekker maats en baie lag .
Ons het ook net een keer ' n jaar gaan vakansie hou . Die voorbereiding vir die Desembervakansie was ook deel van die lekkerte waarna ons uitgesien het . Ma wat blikke vol koekies en beskuit gebak het vir die lang verwagte vakansie . Die padkos vir die rit af see toe is met sorg gemaak – tuisgebakte brood met verskillende selfgemaakte vulsels , frikkadelletjies en biltong . Die lang pad see toe is korter gemaak met speletjies soos “ Ek sien iets met my klein ogies wat begin met ' n b ” of karkrieket . Daar was nie iPads , selfone of tablette soos vandag , waar kinders speletjies speel of video ' s kyk om hulle besig te hou nie . Nee , ons het interaksie met mekaar gehad en baie nuttige vaardighede aangeleer soos om jouself te handhaaf . Hoe dan anders as vier kinders dertien ure die agterste sitplek van ' n kar moes deel !
Speel het groot opvoedkundige waarde vir die totale ontwikkeling van ' n kind . Selfs by volwassenes speel speletjies ' n belangrike rol in die bou van verhoudings en ontspanning . Ons leef in ' n tyd waar baie kinders weet van elektroniese speletjies , maar min werklik buite speel . Daar is min geleenthede vir buite rondhardloop en bal skop . Daar is opvoedkundige waarde aan rekenaarspeletjies , maar ongelukkig is daar ook baie nadele . Baie van die speletjies het geweld as tema . Kinders raak verslaaf aan rekenaarspeletjies en spandeer ure daaraan .
Speletjies leer kinders ook om met ander saam te werk en deel van ' n span te wees . Dit bevorder groepsgees , veral as daar kompetisie tussen spanne is . Speel bevorder verhoudings tussen kinders van verskillende ouderdomme en geslagte . Deur speel , leer kinders ook gesag aanvaar en emosies hanteer , veral as hulle as verloorders uit die stryd tree . Selfbeheersing wat ' n kind deur speletjies leer , is van onskatbare waarde .
Speel skep ook selfvertroue en versterk die selfbeeld , veral as hulle iets regkry . Speel leer ook vir kinders hoe om in verskillende situasies op te tree . Deur speel , gee kinders uitdrukking aan hoe hulle voel , hulle vrese en begeertes , en voel hulle in beheer van die wêreld .
Speel is ' n informele leerproses . Die kind besef nie altyd hy / sy is besig om iets te leer nie . Dit is dus die ideale manier om te leer . Speel is noodsaaklik vir die ontwikkeling van perseptuele en motoriese vaardighede . Fisiese oefening is goed vir ' n kind se gesondheid . Kinders presteer beter as hulle liggame gesond en sterk is . Kinders wat aktief is , rondhardloop en gesond eet , is minder geneig om oorgewig te wees .
Die proses van speel help die fisiese , kognitiewe en sosio-emosionele ontwikkeling van kinders en dra dus by tot die totale ontwikkeling van die kind .
SPANSPELETJIES
(# VoortrekkersKAN LEKKER SPEEL !) is saamgestel vir Die Voortrekkers en bestaan uit verskillende speletjies . Speletjies vir spanbyeenkomste , kampe , groot groepe , om werk te leer en sommer net speletjies vir die pret . Speletjies is deel van Voortrekkerwees . Hier kry kinders weer geleentheid om te speel en deur die speelproses leer hulle nuwe vaardighede aan . Die speletjies in die boek is ingedeel in vier afdelings , naamlik :
• Vriendemaak-speletjies ( Kenmekaarspeletjies , Opkikkers en Ysbrekers )
• Kultuurspeletjies ( soos Groepspeletjies , Tradisionele speletjies , Boeresport )
• Vaardigheidspeletjies ( soos Beweginspeletjies , Ballonspeletjies , Balspeletjies , Waterspeletjies , Slimspeletjies , Skryf- en tekenspeletjies )
• Avontuurspeletjies .
Karin Stoffberg
Word deel van die speletjie-kultuur – tot voordeel van ons kinders . Vyf lesers kan elk ' n boek ontvang . SMS SPEEL na 45730 .
12