Agri Kultuur September / September 2016 | Page 9

Adv. Kobus Engelbrecht Sanlam Besigheidsmark W anneer ‘n mens jou testament opstel is dit belangrik om ondubbelsinnige woorde te gebruik. Iets wat nou baie eenvoudig en ongekompliseerd voorkom kan later ‘n groot probleem veroorsaak. Ek gaan voorafgaande stelling met die volgende praktiese voorbeeld toelig: Gestel ‘n boer besit onder andere ‘n plaas en ‘n woonhuis op die naaste dorp. Hy bemaak die plaas aan sy seun en die woonhuis aan sy dogter. Omdat daar ‘n groot verskil in die waarde van die plaas en die woonhuis is en hy sy kinders gelykop wil laat erf, bemaak hy ook ‘n bedrag geld aan sy dogter. Die woonhuis word in die testament bloot as “my woonhuis” beskryf. Nadat die boer sy testament opgestel het, koop hy ‘n huis in ‘n kusdorp. Die gesin gebruik hierdie huis gedurende vakansies. Die boer pas nie sy testament aan om hierdie laasgenoemde huis spesifiek aan iemand te bemaak nie. Regtens val dié huis nou in die restant van sy boedel. Die boer tree af en hy gaan woon in die huis by die see. Nou kom die boer te sterwe. Die vraag is nou: watter een van hierdie twee huise is sy woonhuis? Watter huis moet die dogter erf? Die potensiaal vir kon -flik is nou baie groot, want, gestel die dogter neem die standpunt in dat die huis op die kusdorp haar pa se woonhuis was aangesien hy die laaste ruk van sy lewe daar gewoon het, en die seun sê nee, die woonhuis is die huis op die dorp aangesien dit die enigste woonhuis was wat hulle pa besit het toe hy sy testament laat opstel het. So ‘n geskil kan uiteindelik in die hof beland met die gevolglike koste daaraan verbonde, sowel as die onenigheid wat dit in die familie kan veroorsaak. Die oplossing om hierdie probleem te voorkom is om die ligging van die woonhuis in jou testament te beskryf. Byvoorbeeld, “Ek bemaak my woonhuis geleë te Leliestraat 2, Cradock aan my dogter”. Op hierdie wyse word enige twyfel uit die weg geruim. Onthou ook om jou testament aan te pas as jy ‘n woonhuis verkoop en ‘n ander een koop. Gestel nou jy bemaak jou woonhuis aan jou dogter en jy omskryf dit baie spesifiek. Nou verkoop jy hierdie huis en koop ‘n ander huis, maar jy pas nie jou testament aan nie. In jou testament word dus ‘n woonhuis wat jy nie meer besit nie aan jou dogter bemaak. Nou ontstaan daar ‘n vraag oor jou bedoeling. Het jy bedoel dat jou dogter die woonhuis wat jy in die plek van die eerste een gekoop het moet erf of nie? Weereens ontstaan die moontlikheid van konflik en die gepaardgaande koste. Wysig jou testament dus wanneer jy bates koop en verkoop. Motorvoertuie en meubels kan baie maklik ook die bron van dubbelsinnigheid en konflik wees. Net so ook aandele. Die boer het byvoorbeeld ‘n aantal Sanlamaandele besit in die stadium toe hy sy testament opgestel het. Hy bemaak nou in sy testament as volg: “Ek bemaak al my aandele aan my seun Jan.” Wanneer die boer sterf, besit hy egter ‘n uitgebreide aandeleportefeulje. Wat was sy bedoeling? Moet Jan net die Sanlam-aandele erf óf alle aandele? Weereens ‘n potensiële bron van konflik. Die bemaking van kontant kan ook ‘n moontlike uitlegprobleem skep. Gestel die boer bemaak as volg in sy testament: “Ek bemaak al my kontant aan my vrou”. Wat presies bedoel hy hiermee? Die kontant in sy beursie, die kontant in sy kluis, die saldo van sy tjekrekening, spaarrekening, geldmarkrekening of wat? Deur eenvoudig te sê “Ek bemaak R100 000 aan my vrou” en daarvoor voorsiening te maak, sal al hierdie onsekerhede uit die weg geruim word. Om te verseker dat jou nalatenskap werklik jou wense weerspieël, is dit belangrik dat jou boedelbeplanning en die opstel van jou testament met groot sorg gehanteer word. Telefoon: 0860100539 Epos: [email protected] Web:www.sanlamsme.co.za