Agri Kultuur September 2014 | Page 93

DAGBOEK INSKRYWINGS

DEURBRAAK VIR LANDBOU-EKSPO’S

Agri-Expo, bekroonde organiseerder van verskeie landbou-aanbiedings en CADEK Media, met die landswye Agriworks Ekspo’s in sy kamp, het ʼn samewerkingsooreenkoms gesluit waar twee van hul geleenthede gesamentlik aangebied word en so ʼn deurbraak vir landboutentoonstellings bewerkstellig.

Die ooreenkoms behels dat CADEK Media se Stellenbosch Agriworks Ekspo en Agri-Expo se Kaapse Suiwel Ervaring vanjaar van 6-8 November 2014 sy-aan-sy op Sandringham buite Stellenbosch sal plaasvind.

“Die tyd het aangebreek vir rolspelers in landbou om nie net te praat nie, maar om te wys dat daar samewerking kan plaasvind,” meen Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo. “Deur hierdie twee prominente geleenthede saam aan te bied, skep dit ʼn waardevolle en uitgebreide netwerkgeleentheid vir produsente en uitstallers en verleen dit ʼn nuwe dinamika aan landbou-ekspo’s in Suid-Afrika.”

“Boere word genoodsaak om te diversifiseer en suiwelprodusente sal beslis baat by dit wat op die Agriworks Ekspo-program is,” meen Ehlers. Die Kaapse Suiwel Ervaring vier die totale waardeketting van suiwel in ʼn provinsie wat voorloop in terme van melkproduksie. Agriworks Ekspo bring op sy beurt weer die nuutste boerderytegnologie en -implemente na die boer en sluit vanjaar ook ʼn sterk teenwoordigheid van wynbou-, tuinbou- en landskapuitstallers in.

Die Agriworks Ekspo, wat tot dusver in Stellenbosch aangebied is, vier vanjaar sy 5de verjaarsdag. “Die skuif na Sandringham sal produsente van Durbanville, Malmesbury, Paarl en so ver as Worcester en Robertson binne gemaklike bereik plaas van hul gunsteling landbouskou,” verduidelik Chris de Klerk, eienaar van CADEK Media en die Agriworks Landbou Ekspo. “Die twee geleenthede komplimenteer mekaar en die gesamentlike aanbieding op een terrein behoort as ʼn deurbraak vir landboutentoonstellings beskou te word.”

Vir meer inligting, kontak Mariana Rabie (Agri-Expo) by [email protected] of 021 975 4440 of Chris de Klerk (CADEK Media) by [email protected] of 021 854 4700.

Agri-Expo Livestock 2014

Agri-Expo Livestock 2014 word van 6-8 November op Sandringham buite Stellenbosch aangebied en nooi alle landbouers, landboubesighede én die publiek om die totale waardeketting van die suiwel- en vleisbedrywe te vier. Dié nuwe geleentheid geniet die ondersteuning van Telersgenootskappe soos Ayrshire SA, SA Holstein, Jersey SA, die Wes- en Suid-Kaap Angus Klub, sowel as die bedryfsorganisasies MPO (Melkprodusente-organisasie) en RPO (Rooivleis Produsente Organisasie).

Hoogtepunte sluit in die Raskampioenskappe met internasionale beoordelaars en die Santam Jeugskou wat in die Nova Skou Arena aangebied word. Hierdie jaar is daar bykans 100 klasse waarin diere geskou word en inskrywings van die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat en die Oos- en Suid-Kaap word verwag. Die kroning van die Absa Suiwelkoningin van die Jaar en die BKB Rooivleis Koning en Koningin van die Jaar vind die Saterdag plaas.

ʼn Melkbok inligtingsdag, wat fokus op melkboktelers, opkomende boere, bokmelk prosesseerders en kaasmakers, word op Vrydag 7 November deur kundiges in die bedryf aangebied. Die sameroeper is Donald Mouton van Fairview, bekende leiersfiguur in die Melkbokindustrie.

Kaartjies is by die hekke beskikbaar teen R30 vir volwassenes, kinders tussen 7 en 18 betaal R10 en kinders jonger as 7 jaar is gratis.

Geleentheid: Agri-Expo Livestock 2014

Plek: Sandringham, Stellenbosch

Datum: 6-8 November 2014

Navrae: Media: Porchia Adams, [email protected],

Uitstallers: Lara Manig, [email protected],

www.livestock.org.za

021- 9754440

021- 9754440