Agri Kultuur September 2014 | Page 14

Artikel verskaf deur NETAFIM Die beskikbaarheid van water is die enkele beperkende faktor wat landbouproduksie beperk. L andbou is tans die grootste gebruiker van water - 63 % van die beskikbare oppervlakwater (2000). Suid Afrika het geen surplus water nie met die gevolg dat water baie beter en slimmer in die toekoms gebruik moet word. ‘n Paar aksies om water beter te gebruik, sluit in: die gebruik van meer effektiewe besproeiingstelsels soos bv. drupbesproeiing, onderhoud van besproeiingstelsels, rekordhouding en beter skedulering. Een van die maniere om water meer effektief te gebruik, is om beter te skeduleer. Dit sluit in beter tegnieke, beter bestuur en beter rekordhouding. Skedulering moet geskied op die basis van in agneming van grondtipe, gewas, grondwaterstatus en weerstoestande. Vir beter skedulering, moet die volgende vrae beantwoord word: Wat wil ek bereik? Is die doel maksimum produksie, maksimum kwaliteit of vir watter doelwit produseer ek? Na gelang van doelwit word die besproeiingstrategie bepaal. Wat is my produksiearea se werklike watergebruik en hoe verskil dit gedurende die seisoen? Dit is belangrik om te weet die watergebruik verander gedurende die groeiseisoen as gevolg van klimaatstoestande en die grootte van die lower wat verander. Aanvanklik is die waterverbruik baie laag en soos wat die klimaat warmer word en die lower groter, verhoog die waterverbruik. Normaalweg bereik watergebruik ‘n piek in Desember/Januarie/Februarie en neem dan weer stelselmatig af soos wat die klimaat verander. Wat kan my stelsel hanteer? As besproeier moet mens weet waartoe die besproeiingstelsel in staat is en hoeveel water dit in ‘n uur kan neersit. Die toedieningstempo van die stelsel kan maklik bereken word deur die aantal druppers per hektaar te bereken en dit te vermenigvuldig met die lewering van die druppers of anders deur die volgende formule: lewering van druppers (ℓ/h) ÷ [spasiëring tussen druppers (m) x spasiëring tussen druplyne (m)].