Agri Kultuur October / Oktober 2014 | Page 8

Deur Ernst HW Baard CAPENATURE Die voortbestaan van die mens hang ten nouste saam met die beskikbaarheid van en die hoeveelheid natuurlike en geproduseerde hulpbronne wat ons lewenswyse ondersteun W ater, voedsel en die vermoë om beide op ‘n volhoubare wyse in die toekoms te produseer, gaan die verskil wees tussen wen of verloor. Daar kan geen twyfel wees dat die produksie van voedsel een van die belangrikste aspekte van ons lewenswyse en voortbestaan is nie, en daarmee saam, die behoefte aan landbougrond om hierdie produksie vol te hou. Die beskikbaarheid van water, die vermoë om dit te verseker vir die langtermyn, en voortdurende navorsing om die beste moontlike maniere te ontwikkel om landbouproduksie volhoubaar te laat gebeur, is uiteraard hoë prioriteite. Dit staan egter soos ‘n paal bo water dat Suid-Afrika se bevolking teen ‘n tempo groei wat nie noodwendig tred hou met die produksie en beskikbaarheid van voedsel nie, en daarom word syfers aangehaal dat sowat 50% van die bevolking nie genoeg voedsel het nie. Dit is ontstellend wanneer ander syfers aandui dat tot 98% van die beskikbare water in Suid-Afrika reeds toegewys is aan die een of ander sektor, gegewe die feit dat Suid-Afrika as ‘n water-arm land geklassifiseer word. Wat egter gerusstellend is, is dat ten minste ‘n gedeelte hiervan reeds aan die omgewing toegeken is, dit wil sê, die omgewing wat ons lewenswyse met die produksie van vars en skoon drinkwater, skoon lug, varswaterhulpbronne, ens. voorsien, het ten minste sy deel gekry. Sonder hierdie toedeling sal ons riviere droogloop, ons vleilande bar lê en ons riviermonde geen bydrae lewer tot omgewingsvolhoubaarheid nie – meer hieroor ‘n bietjie later. Omdat water nodig is vir voedselproduksie en voedselproduksie op sy beurt die beskikbaarheid van water beïnvloed, kan mens logies aflei dat ‘n balans verkry moet word tussen hoeveel water rederlikerwys uit die omgewing getap kan word en hoeveel daarvan gebruik kan word. Wanneer ons die Wes-Kaapse landskap beskou, merk mens op dat die bergopvanggebiede soos die Cederberge, Grootwinterhoekberge, Bolandse berge, Langeberge, die Outeniekwas en Swartberge logies beskou kan word as die sognaamde “waterfabrieke” van die Wes-Kaap. Uit hierdie opvangebiede of “rivierbekkens” word vars, skoon drinkwater volhoubaar op ‘n permanente wyse geproduseer, en die rivierstelsels wat die landskap deurvloei bring lewe aan almal. Die vleilande wat netwerke in die laaglande vorm, absorbeer vloede en stormwater in nat tye waarna die water dan in droë tye stadig, maar volhoubaar, vrygelaat word om water vir mens, dier en omgewing te verskaf. Hierdie “dienste” wat die omgewing ons (gratis) bied word deesdae algemeen as “ekosisteemprodukte en –dienste” beskou, en ons berge, riviere, vleilande, riviermondigs en ander natuurlike gebiede staan bekend as “ekologiese infrastruktuur”. Ongelukkig is dit so dat baie van ons ekologiese infrastruktuur deur indringerplante ingeneem is of beskadig is deur ondeurdagte ontwikkeling. Navorsing het bewys dat die beskikbaarheid van water deur hierdie faktore betekenisvol geaffekteer en verminder word. Daar word byvoorbeeld beraam dat in Suid-Afrika sowat 10 miljoen