Agri Kultuur October / Oktober 2014 | Page 10

hektaar grond deur indringerplante ingeneem is, wat beteken dat waterafvloei met sowat 3,3 biljoen kubieke meter verminder word (dit is bo en behalwe die water wat deur inheemse plantegroei verbruik word). Hierdie syfer is ongeveer 7% van die landswye totale waterafvloei! As die beskikbaarheid van water dan die volhoubare produksie van voedsel en ander landboubehoeftes krities beïnvloed, onstaan die vraag hoe mens dan ‘n gesonde balans kan handhaaf tussen landboubehoeftes en voedselsekerheid aan die een kant, en die volhoubaarheid van die omgewing wat aan ons hierdie noodsaaklike ekosisteemdienste verskaf soos skoon, varswater, skoon lug, vloedbeheer, bestuiwingsdienste, besoedelingsbeheer, ens. aan die ander kant? Ons moet ook nie vergeet dat gesonde ekostelsels wat ons in en om ons bewoonde en bewerkte gebiede aantref, sorg dat hierdie ekosisteemdienste volhoubaar bly. Wanneer ekostelsels beskadig, oorbewei en toegelaat word om stadig maar seker agteruit te gaan, torring ons aan die basiese wese van hierdie onderhoudstelsels wat ons lewenswyse ondersteun. Ongelukkig is dit so dat daar ‘n punt of ‘n onderste drumpel is waar ekostelsels ingee en as dit eers verby daardie punt is, kan dit nie meer hierdie dienste verskaf nie. In hierdie verband is dit dus belangrik dat bedreigde en krities-belangrike habitatte, ekostelsels en ander ekologiese infrastruktuur, asook gebiede wat noodsaaklik is om hierdie ekostelsels te ondersteun (soos belangrike wateropvangebiede en voedingsterreine vir riviere en vleilande) geïdentifiseer en gekarteer, en in sommige gevalle gerestoureer word, sodat beskermingsmaatreëls in plek geplaas kan word om dit te beskerm. Een van hierdie belangrike maniere is biodiversiteit-voogskap waar grondeienaars, waarvan baie boere is, ‘n baie belangrike en onskatbare bydrae lewer. Wat my betref lê die antwoord in ‘n eenvoudige sommetjie: omdat alles so ineengeskakel is, as ons eerstens kan verseker dat ons genoeg water uit ons bergopvanggebiede kan produseer deur indringerplante te beheer en goeie ekologiese brandbestuur (veral in die fynbos) kan toepas. Tweedens, dat belangrike en lewens-ondersteunende ekologiese infrastrutuur soos riviere, vleilande en belangrike natuurlike habitatte gesond, behoue en beskerm bly en derdens dat ons op ‘n slim manier landbou-produksie maksimiseer en voedselsekerheid verseker sonder om die basis hiervan (die omgewing) te beskadig, is daar ‘n t oekoms vir almal. In hierdie verband is CapeNature as die Wes-Kaapse natuurbewaringsagentskap, baie opgewonde oor en ondersteun ons baie belangrike inisiatiewe soos die Biodiversiteit-en-Wyn Inisiatief, en ander innoverende aksies en inisiatiewe in die sitrus-, rooibos, volstruis- en aartappelbedrywe wat vir almal hoop gee dat ons hierdie ding kan regkry. Die behoud van ekologiese infrastruktuur op landbougrond om gewasverbouing te ondersteun is myns insiens net so belangrik as om die regte gewas in die grond te kry sodat ons genoeg kos kan hê. Ek is oortuig daarvan dat die grondeienaar, landbouer of reguleerder wat hierdie prentjie in sy of haar kop bymekaar kan sit, ‘n bydrae sal lewer tot hierdie balans waarna ons soek. Dit kan nie die een of die ander wees nie. Ons in die biodiversiteitsbedryf en die landboubedryf sal moet saamstaan as ons kinders se kinders eendag genoeg water en kos wil hê, asook ‘n gesonde omgewing wat hierdie alles ondersteun – dit raak laat in die dag. Gesonde natuurlike veld kan baie waarde toevoeg tot landbou-aktiwiteite deur die verskaffing van ekosisteemdienste soos skoon drinkwater, vloedbeheer en bestuiwing.” Foto : Cape Nature Foto : Cape Nature