Agri Kultuur November 2018 | Page 22

US bekyk klimaat-slim landbou Jorisna Bonthuys D roogte en ‘n toename in waterrisiko’s is die nuwe werklikheid vir Afrika. Talle produsente en rolspelers in die landbousektor het reeds hierby begin aanpas en beraam planne om vooruit te boer. Meer vernuwing is egter nodig om veerkragtigheid in die landbousektor te vestig, veral gegewe snelle verstedeliking. Dit moet geskied op ‘n manier wat plaaslike werklikhede in ag neem, het prof. Danie Brink, dekaan van die Universiteit Stellenbosch (SU) se Fakulteit AgriWetenskappe, hieroor gesê. “Die aard van landbou en geleenthede wat dit inhou, insluitende in stedelike gebiede, verskil uit die oogpunt van lae-inkomste- en hoë-inkomste-lande,” het Brink gesê. “Dit maak inderdaad saak of jy in Lagos (Nigerië), New Jersey (in Amerika), of in Groningen (in Nederland) woon wanneer ons praat oor innovasie vir die toekoms.” Brink was een van die gassprekers in ‘n onlangse werkswinkel by die US oor verstedeliking en klimaatslim landbou. Die interdissiplinêre werkswinkel, getiteld “Wolkekrabbers en lugtuine: perspektiewe oor verstedeliking en klimaatslim landbou”, is AgriKultuur |AgriCulture aangebied deur dr. Bianke Loedolff. Dit was deel van die eerste post-doktorale konferensie in Suider-Afrika in sy soort. Loedolff, verbonde aan die Instituut vir Plantbiotegnologie, het aangedui dat droogtetoestande weens klimaatsveranderlikheid reeds een van die vernaamste kopsere is vir die versekering van voedsel- en voedingsekerheid. Droogte het ‘n uiters nadelige effek op bykans die helfte van gewas- en veeproduksie in Afrika. “Met inagneming van die ‘verskuilde’ koolstof-, water-, en ekologiese voetspoor van talle landbougewasse, moet alternatiewe gewasse ook voortaan oorweeg word,” het Loedolff gesê. Tans is mielies en koring byvoorbeeld die vernaamste gewasse wat in Suid-Afrika geproduseer word. Albei gewasse het ‘n groter watervoetspoor as peulgewasse soos sojabone en duiweboontjies. “Ongeveer 900 liter water word benodig om een kilogram mielies te produseer. Vir sojaboonproduksie word 250 liter water per kilogram benodig, en vir duiweboontjies net 50 liter. Is dit nie die soort gewasse waarop ons moet fokus nie?” wou sy weet. 22