Agri Kultuur March/ Maart 2016 | Page 72

Klink die volgende vir jou bekend? “Ek is bekommerd oor my kinders – wat gaan hulle eendag doen om ‘n inkomste te verdien? Waar gaan hulle werk kry? Hoe gaan hulle leef en vooruitgaan? Daar is dan nie werk vir my kinders nie?” O ns hoor hierdie bekommernisse op sovele plekke en by sovele geleenthede. Dit is ook onder leerders ‘n groot punt van bespreking en moedeloosheid. Dit bring selfs vakkeuses en moontlike beroepsrigtings in gedrang. Kan ons dalk ‘n gedagte op die tafel sit? Kom ons draai die word “werkloos” met sy negatiewe uitwerkings om en ons stel jou bekend aan die opwindende en winsgewende wêreld van die ENTREPRENEUR. Dit mag wees dat jy nog skepties staan teenoor hierdie positiewe geleentheid en uitkomste – dis natuurlik en bloot menslik - maar moet dit nie summier verwerp nie. Ons gaan vorentoe in veel meer diepte hieraan aandag skenk en hierdie besondere wêreld aan jou bekend stel. Die volgende vrae duik gereeld op:  Waar begin ons? Ek skok jou dalk deur te se op 3-4 jarige ouderdom. Dit is interessant om te sien die ontdekkingsreis begin sommer al vroeg-vroeg in die lewe.  ‘n Verbaasde ouer kan beswaarlik haar opgewondenheid verberg: “Wil jy vir my vertel dat my kind op die ouderdom 3-4 jaar al sy eerste kennismaking met Entrepreneurskap moet ervaar - hoe word dit gedoen?”  Vertel my nou mooi wat vir ‘n ding is ‘n Entrepreneur?  Het ‘n Entrepreneur bepaalde eienskappe?  Is hierdie “oplossing” ‘n spanpoging – wie speel almal in hierdie span? Ons gaan al hierdie vrae vir jou beantwoord in komende uitgawes. Ons gaan nie net met ons kinders en tieners gesels nie, maar ewe belangrik ook met ons ouers, leerkragte by skole en owerhede gemoeid met Onderwys en Opleiding. Die hele benadering sal wees een van pret en verseker die versameling van noodsaaklike inligting en tegnieke om stelselmatig die wêreld van die Entrepreneur te ontdek. Uiteraard sluit dit die Landbou in waar entrepreneurskap van die grootste belang is. Sou dit wees dat jy nie noodwendig ‘n landbouer gaan word nie, gaan die beginsels en alles wat vorentoe aangebied gaan word nogtans van so ‘n aard wees dat jy dit in enige ander beroepsrigting met groot vrug en sukses kan gaan toepas. Dis ‘n proses wat jy nie moet misloop nie! Stuur asseblief vir ons jou vrae, aspekte wat onduidelik is, dinge wat jou kwel en ons werk daardeur en kom met antwoorde terug. Tot volgende keer. John Goosen Kontak gerus vir John Goosen by [email protected]