Agri Kultuur March/ Maart 2016 - Page 62

kort weiperiode blyk dus nie nadelig vir die plant te wees indien die veld weer lank genoeg daarna rus nie, maar hiervoor word baie kampe per trop benodig  Vermy dus lang weiperiodes van ‘n kamp indien moontlik. Na 4 weke se ontblaring op ‘n weeklikse of elke tweede week basis, het die wortelgewig drasties begin afneem (ongeag optimale groudwater of waterstremming). ‘n Weiperiode van langer as ‘n maand begin gevaartekens toon vir die smaaklike weiplante se volhoubaarheid.  Waterstremming (droogte) het ‘n groter impak op wortelafsterwing as alleenlik ontblaring en daarom moet die twee aspekte altyd saam beskou word. In groot dele van ons weiveldgebiede is ‘n droogte meer die reël as die uitsondering en daarom moet hierdie krisisse baie goed bestuur word. Die resultate het duidelik uitgewys wat ‘n geweldige impak ontblaring saam met ‘n droogte vir wortelgroei inhou. ‘n Swak verspreide wortelstelsel maak die plant nog meer droogte-sensitief en gevolglik gee dit aanleiding tot ‘n nievolhoubare weidingekosisteem.  Alhoewel oor die algemeen daar- op staat gemaak kan word dat ‘n volle groeiseisoensrus nadelige gevolge van ontblaring weens lang weiperiodes weer sal ophef, mag dit volgens hierdie studie dalk steeds te kort wees vir smaaklike plante om te herstel en groeikrag ten volle te kan herwin. Dit is duidelik uitgewys dat, sou smaaklike grasse te periodiek ontblaar word, die wortelstelsel sodanig benadeel word dat ‘n veel langer as ‘n vollegroeiseisoen se rus dalk benodig mag word, uitgesluit ook nog die impak van ‘n droogteperiode daarop.  Gesonde weiveldbestuur draai alles rondom die handhawing van die groeikrag van die sleutelweiplante. Net soos ‘n veeboer se strewe ‘n hoë speenpersentasie is, so behoort ‘n konstant groeikragtige weiveld ‘n hoë prioriteit by die veeboer te wees. Hierdie kan alleenlik verwesentlik word met ‘n goed ontwikkelde wortelstelsel wat ‘n uitvloeisel is van lang genoeg rusperiodes wat die weiveld na ontblaring ontvang. Hou altyd ingedagte dat wortelgroei tweede in die tou staan as dit kom by die gebruik van beskikbare groeireserwes (bogrondse groei geniet voorkeur) en sal die plant gevolglik net groei met ‘n surplus groeireserwes tot sy beskikking.  Ontblaringsintensiteit en –frekwensie se invloed op wortelgroei en produktiwiteit is, behalwe vir die variërende grondwatertoestande (droogte), ook nog ‘n funksie van die tipe grasplant. Hierdie studie het slegs rooigras as voorbeeld van ‘n smaaklike gras ingesluit en mag die impak van ontblaring en droogte op ander grasse se produktiwiteit dalk nog meer of minder drasties wees. Hierdie navorsing behoort dus uitgebrei te word na ander sleutel- of indikatorweiplante. Waar die beginsel van korter weiperiodes toegepas word, neem die totale lek-inname per kop in die meeste van die gevalle ook af, teenoor ‘n lang weiperiode per kampbenadering. Tydens lang weiperiodes word die smaaklike grasse, met gewoonlik die hoogste voedingswaarde, eerste benut wat dan noodwendig opgevolg word deur die benutting van minder smaaklike plante met ‘n laer voedingswaarde en vandaar ‘n afname in diereproduksie/kondisie. Gids tot volhoubare produksie van weiding Die gewilde weidingboek saamgestel deur professor Hennie Snyman (Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde, Universiteit van die Vrystaat) is pas herdruk. Beskikbaar by: johan.terblanche@media24.com Tel 021 4064962 R400 plus posgeld Kan ook direk elektronies bestel word deur te gaan na: www.landbou.com Gaan heel na “winkel”, en kies dan “weidingboek.” Die boek kan dan met ‘n Kredietkaart bestel word. ‘n Moet vir elke vee- en wildboer!