Agri Kultuur June / Junie 2016 | Page 67

A gri-Expo Livestock se doel is om die veebedryf ten toon te stel en te bevorder, sodat daar `n platform vir handel geskep word en die jeug ook aangemoedig word om in die landbousektor betrokke te raak. Die expo sal van Donderdag, 13 Oktober tot Saterdag, 15 Oktober 2016 by Sandringham, net buite Stellenbosch, plaasvind. Tydens hierdie gesogte geleentheid sal besoekers wêreldklas beeskampioenskappe, jeugskoue en baie meer kan ervaar, terwyl die hoogtepunt die kroning van die Suiwelkoningin en Rooivleiskoning of -koningin sal wees. Agri-Expo Livestock fokus op die volgende sektore: Voeding, Genetika, Dieregesondheid, Higiëne, Melk- en Suiweltoerusting, Dienste, Opleidingsinstellings, en Waardeketting-produkte. Die expo is familie-vriendelik, en daar sal elke dag baie aktiwiteite vir oud en jonk wees. Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte, sê dat die expo die opvoeding van die jeug oor die belangrikheid van die veebedryf as uiters belangrik ag en dat hulle doelbewus idees implementeer om dit te bevorder. Kaartjies sal by die hek te koop wees op die dae wanneer die expo aangebied word, so wees vroeg daar om joune te kry. Kaartjies kos R50 vir volwassenes ouer as 18 jaar, R30 vir kinders tussen 13 en 18 jaar, en kinders onder 13 jaar kom gratis in. Stellenbosch en die omliggende areas bied `n wye verskeidenheid van verblyfopsies wat in elke behoefte voorsien. Die opsies is op die expo se webblad te sien by www.livestock.org.za.