Agri Kultuur July / Julie 2018 | Page 26

verstaanbare konsepte en begrippe nie . Baie wetenskaplikes het bloot nie die aanvoeling ( of belangstelling ) om populêre artikels te skryf sodat dit in ‘ n vorm is wat verstaanbaar is vir produsente nie . Die evaluering van wetenskaplikes is ook nie hierop gerig nie en word hul prestasies hoofsaaklik gemeet aan die aantal wetenskaplike artikels en kongresbydraes wat gelewer word . In Suid-Afrika word wetenskaplikes selfs aangemoedig om in buitelandse joernale artikels te publiseer eerder as in plaaslike joernale omdat dit meer “ status ” aan hul werk sou verleen .
Navorsing is ‘ n lang proses Primêre produsente is nie altyd op hoogte met die proses van navorsing nie . Die volgende eenvoudige voorbeeld kan gebruik word : dit is te wagte dat dit voordelig sou wees om gedurende die somer skaduwee aan melkkoeie te voorsien . Die eerste vraag sou wees wat die voordeel is ( in terme van melkproduksie ) en ( vir boere baie belangrik ) sal dit betaal om so ‘ n struktuur op te rig ? ‘ n Studie word dan gedoen met twee groepe koeie in oop kampe met of sonder skaduwee . Na die eerste somer is daar ‘ n tendens ( neiging ) dat koeie meer melk gee wanneer hulle toegang tot skaduwee het . Omdat min proefdiere jaarliks beskikbaar is en klimaatstoestande ook jaarliks kan varieer , moet die proef vir ‘ n tweede en selfs vir ‘ n derde somer herhaal word om sodoende ‘ n finale definitiewe antwoord te kry . Die data wat oor die drie somerperiodes versamel is moet verder statisties ontleed word om vas te stel of die verskille tussen die behandelings nie toevallig is nie , maar dat dit as gevolg van die behandelingseffek is . Indien die verskil in melkproduksie tussen die twee behandelings ( koeie met of sonder skaduwee ) statisties betekenisvol verskil , dan kan die hoër melkproduksie van koeie in die skaduweegroep met ‘ n 95 % sekerheid toegeskryf word aan die behandeling . Eers hierna kan bepaal word wat die
opbrengs was van die kapitale belegging om die skaduwee-struktuur op te sit .
Uiteindelik het die studie dan getoon dat , onder hierdie spesifieke weerstoestande , koeie met skaduwee meer melk produseer , minder stres ervaar , koeie hul gedrag verander om hittestres te verminder en dat die koste vir die oprigting van die skaduwee-afdak na drie somers terugbetaal is .
Sonder ‘ n statistiese ontleding het ‘ n proef geen wetenskaplike basis nie en is alle resultate hoogstens waarnemings en min werd . Daarom word die algemene uitdrukking gebruik dat waarnemings mag korrek wees maar dat gevolgtrekkings verkeerd kan wees . Die regte statistiese ontleding skakel hierdie probleem uit .
Proefresultate is gekoppel aan die metodiek van die studie en moet resultate verkieslik nie buite die proefraamwerk geëkstrapoleer word nie . Die positiewe resultate van die skaduweeafdakproef kan daarom nie netso gebruik word deur ‘ n maatskappy wat skadunette bemark en installeer nie . Die rede hiervoor is dat skadunette nie dieselfde kwaliteit skaduwee voorsien as ‘ n vaste afdak nie ( son word deurgelaat ) en die leeftyd daarvan is dikwels korter as dié van ‘ n vaste struktuur . Om die waarde van ‘ n skadunet-afdak te bepaal , moet ‘ n nuwe studie gedoen word .
Ten slotte Die oordraging van kennis vanaf navorsingsinstansies na primêre produsente is ‘ n probleem . Produsente maak min of geen insette met die vasstel van navorsingsbehoeftes ( bestuursprobleme raak dikwels ‘ n navorsingsbehoefte ), terwyl hulle ook geen direkte bydraes maak om navorsing te befonds nie . Die korrektheid van advies wat boere van niespesialiste kry is dikwels twyfelagtig omdat dit op waarnemings gebaseer is .
Photo Madeline Kriel
AgriKultuur | AgriCulture
26