Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 16

Maak presisieboerdery deel van die oplossing Artikel en foto’s deur H Truter SITECH Southern Africa P resisieboerdery kan graanboere die voorsprong gee met landbou in die 21st eeu. Deur grond optimaal te benut, kan produsente verrassende resultate verkry. Presisieboerdery is die toekoms en die toekoms is hier. Dit is die troos te midde van ‘n al hoe groter uitdagings om voor te bly in die graanbedryf. Nie net produksie-koste nie, maar ook klimaatstoestande verhoog jaarliks die druk op die produsent. Dit laat die vraag ontstaan oor presies hoe die graanprodusent gaan oorleef. Om dit te antwoord, moet `n mens heel voor begin: Waarmee boer produsente regtig? Met mielies, sonneblomme, koring, ja, met al hierdie gewasse, maar die gemeenskaplike komponent bly in alle gevalle die grond. Die produsent wat aan die voorpunt bly, benut sy grond optimaal in sy gegewe toestande. Dit is waar die waarde van presisieboerdery lê, nie in die feit dat die trekker nou sonder `n handlanger mooi reguit loop nie, maar in die potensiële bydrae wat dit tot ‘n totale operasie kan lewer. Vir ‘n hele aantal jare reeds kyk sommige boere op na die hemele, maar nie vir reën nie, soms vir reën ook, maar eerder na satelliete wat die pad vir hulle trekkers en implimente moet aanwys in die lande. Niks behoort aan die toeval oorgelaat te word nie: Hoe meer elemente ontleed, vertolk en daarvolgens bestuur kan word, hoe beter sal jou opbrengs lyk en hoe minder koste sal jy hoef aan te gaan. As boere in die toekoms volhoubaar en winsgewind wil produseer, is dit onafwendbaar om hulself tot presisieboerdery te wend. Die voordeel daarvan om produksiemiddele teen volle doeltreffendheid aan te wend, spreek vanself. Om nie eens te praat van die verbetering wat dit in opbrengste te weeg bring nie. Daar is vandag ‘n reeks maatskappye in Suid Afrika wat produkte aan die boer kan bied wat sal verseker dat die koste van produksiemiddelle tot op die been gesny word en optimale opbrengste gelewer kan word. Van hierdie maatskappye bied die volledige pakket vir presisieboerdery aan boere. Van opbrengskarteringstelsels deur middele van GPS (globale posisioneringstelsel) tot ten volle geoutomatiseerde stelsels wat teen ‘n wisselende tempo tot en met vyf verskillende produkte (in ‘n vloeistof-, korrel- of gasvorm) kan lewer volgens ‘n vooraf saamgestelde kunsmis aanbevelingskaart. Die kaart word saamgestel deur vooraf ‘n fisiese grondprofiel en chemiese analise van die grond te neem, dit te ontleed en dan ‘n aanbevelingskaart saam te stel. Dit alles word met geintegreerde sagteware en skerms beheer om te verseker dat die regte middels, soos kunsmis, saad, onkruiddoder, ens. op die regte plek toegedien word. Dit bring mee dat landbouchemikalieë nie onnodig aangewend word waar dit nie deur die plant gebruik sal word nie. Sodoende word alle produksiemiddels uiters doeltreffend aangewend. Die kostebesparing is reusagtig en meer as een werktuig gebruik die-