Agri Kultuur January / Januarie 2016 | Page 71

lang pad daarmee saam. Hulle is daarby saam nogal ‘n kosmopolitaanse groep, en sluit onder meer mense afkomstig van Lesotho, SuidAfrika, Belaroes, Rusland en die Oekraïne in. Toe die panele sowat vier jaar gelede amptelik by die US begin is, moes die lede nog hul waarnemings met potlood en papier vaslê. Deesdae is hulle al goed geskool in die gebruik van spesifieke rekenaarsagteware. Die data word deur Jeanne Brand en Valeria Panzera en hul spanne verwerk, en dan deurgegee aan die betrokke navorser of student wie se wyne aan die beurt gekom het. Dis nie kinderspeletjies om spesifieke style en kultivars te kan vergelyk en te kan beskryf nie. Voor elke reeks proë moet die paneellede as’t ware gekalibreer en gestandariseer word sodat hulle weet wat hulle met die mond ervaar en met die oog sien, én hoe om dit so duidelik moontlik te kan uitdruk. Om byvoorbeeld vir prof Wessel du Toit en sy nagraadse studente van waarde te kan wees in hul navorsing oor die invloed van oksidasie op Sauvignon Blanc, moes die paneellede eers opgelei word oor die fynere detail van hierdie witwyn. Eers daarna kon hulle begin om die verskillende wyne wat vir navorsingsredes danksy verskillende behandelingsmetodes gemaak is, sensories te vergelyk. Jeanne Brand, wat een van die panele lei, is op haar beurt besig met haar PhDnavorsing. Sy gebruik weer die panele se fyn sintuie om vinniger sensoriese evalueringsmetodes te kan ontwikkel – en dit verg baie proewerk! Die proepanele se vaardighede word meestal vir interne navorsingsredes gebruik. Jou beste opsie om self te kan proe watter wyne by die Uni-versiteit Stellenbosch gemaak word, is om ‘n bottel of twee Die Laan of Rooiplein Maties wyne te probeer. Dit word in die Universiteit se eie Welgevallen Kelder gemaak. Om hiervan te bestel, kontak keldermeester Riaan Wassung ([email protected]) of besoek die Facebook blad “Die Laan Wines”.