Agri Kultuur January / Januarie 2016 | Page 54

Artikel deur Kobus Lourens Boshoff Visser D ie langverwagte verandering in aftrede besparing wetgewing is deur President Zuma afgeteken en is vanaf 1 Maart 2016 in werking. Daar was baie spekulasie, ontevredenheid asook publieke en industrie terugvoer rondom hierdie wetgewing. Die veranderinge kan as volg opgesom word uit die wet. Bydraes tot aftreefondse wat aftrekbaar is vir belasting verhoog na 27,5% van belasbare inkomste (voorheen 15%). Die 27,5% word egter beperk tot R350 000. Bydraes tot voorsorgfondse is ook aftrekbaar van belasbare inkomste. Werkgewerbydraes tot werknemerpensioen en -voorsorgfondse sal ingesluit word in die werknemer se bruto inkomste as ’n byvoordeel. Werknemers sal gevolglik hierdie bydraes as hulle eie hanteer met die berekening van hul totale bydraes. Van 1 Maart 2016 word alle aftreefondse gelykvormig hanteer. Gevolglik sal voorsorgfondslede, soos alle ander aftreefondslede, tydens aftrede slegs een derde van hul fondswaarde in kontant kan neem. Die twee-derdes wat oorbly moet in ’n inkomste genererende produk belê word. Bestaande voorsorgfondslede behou egter hul reg op die fondswaarde, plus toekomstige groei, van voor 1 Maart 2016. Indien ’n lid van ’n voorsorgfonds 55 of ouer is op 1 Maart 2016, sal die nuwe wetgewing, ten opsigte van voorsorgfondse, nie van toepassing wees nie. Hierdie lid sal steeds toegang hê tot sy volle fondswaarde met aftrede. Lede van aftreefondse waarvan die fondswaarde minder as R247 500 is, sal die volle waarde kan onttrek met aftrede indien dit hulle keuse is. Dit is ‘n toename in die huidige waarde van R75 000. Veranderinge wat egter vanaf 1 Januarie 2016 in werking is, is dié van toepassing op boedels. Bydraes gemaak op of na 1 Maart 2015 in ’n aftreefonds, maar waarvoor die lid nie ’n belastingaftrekking ontvang het nie, word ingesluit by die berekening van boedelbelasting. Bydraes waarvoor ’n belastingaftrekking nie ontvang is nie, maar wat deel uitmaak van ’n enkelbedrag uitbetaling aan die lid of wat gebruik is om die belasting op die inkomste annuïteit te verminder, word egter nie ingesluit vir die berekening van boedelbelasting nie. Bostaande is ‘n kort opsomming van die veranderinge rondom die wetgewing. Ons beveel aan om met u finansiële adviseur die veranderinge te bespreek en, indien nodig, aanpassings aan u bestaande portefeulje te maak. Kobus Lourens Besturende direkteur: Boshoff Visser Finansiële Dienste (Edms.) Bpk. Bostaande inligting is slegs vir kennisname en is geensins advies nie. Boshoff Visser Finansiële Dienste (Edms.) Bpk. is 'n geregistreerde finansiële diensverskaffer met FSP lisensienommer: 11969.