Agri Kultuur January / Januarie 2016 | Page 50

Artikel deur Hans Lombard ‘n Unieke revolusionêre agt-ry presisie tegnologies gevorderde planter – die eerste in sy soort in SuidAfrika – is deur Monsanto ingevoer om mielieproewe vinniger en akkurater te plant om opbrengste te verhoog en beter gehalte data te verkry. Die projek is in Februarie 2011 geïnisieer en finaal in Augustus 2014 geïmplementeer met die aflewering van die planter. Die Almaco planter beskik oor gesofistikeerde ingenieurswese eienskappe en spog met van die wêreld se voorste planter tegnologie. ‘n John Deere 8245R trekker met outomatiese stuurfasiliteit is ook aangeskaf om die planter te hanteer. Die planter kan geprogrammeer word vir die hantering van plantestand/ha, tempo van bemestingtoediening, lengte van plotte en rywydtes. “Plantestand/ha kan met die plant verander word van 20 000p/ha na 130 000p/ha. Kunsmisbakke word elektronies beheer om te verseker dat elke plantjie dieselfde hoeveelheid kry. Tot vier verskillende applikasies kan in een eksperimentele plot gehanteer word indien nodig,” sê mnr Mauritz Lombaard, toetsoperasionele-bestuurder van die mielietelingspan van Monsanto. Eksperimentele plotte van verskeie lengtes word in rywydtes van 75cm, 91cm, 1.5m of 2.3m geplant, afhangende van die presipitasievlakke van die betrokke area. Die planter word deur twee persone beman wat bo-op die planter in stoele sit. Hulle voer die plantbuise met vooraf-verpakte saad in koeverte wat verskillende eksperimentele basters bevat. Elke plot word volgens GPS-koördinate gekarteer. Dit word gestroop met spesiale omgeboude New Holland stropers om opbrengsdata te versamel. Proewe word in vyf provinsies deur geskoolde toetsspanne geplant – Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga, Noord-Wes en Noord-Kaap. Alle proewe word op grond geplant wat van kommersiële boere gehuur word. Boere speel ‘n kritieke rol in die gehalte van die proewe. Proewe word aangepas volgens die boer se praktyke, bemestingaanbevelings, insek- en onkruidbeheermaatreëls. Vir meer inligting skakel Mauritz Lombaard 082 447 2337.