Agri Kultuur January / Januarie 2016 | Page 33

Groeipunt- en lootontwikkeling Voordat die ontblaringsbevindinge wat in die volgende reeks artikels in detail bespreek gaan word aangebied word, is dit van kardinale belang om eerstens na die morfologiese ontwikkeling en aanpassings van die grasplant te kyk ten einde die impak van ontblaring daarop beter te verstaan. Die ontwikkeling van ‘n graspol word aan die lote gemeet. ‘n Grasplant of pol bestaan dus uit ‘n versameling van lote. By meerjarige grasse leef die lote dikwels nie langer as die van eenjarige grasse nie, maar hulle is meerjarig vanweë hulle vermoë om sekondêre lote op die pol te vorm wat die oorspronklikes vervang. Die sekondêre lote word nie noodwendig op dieselfde tyd gevorm nie, sodat meerjarige grasplante/polle uit ‘n versameling lote van verskillende ouderdomme bestaan (Figuur 1). ‘n Loot bestaan uit ‘n blaarskyf (lamina) en ‘n blaarskede, met die tongetjie (ligula) ongeveer in die middel van die blaar. Figuur 1. Rooigraspol (Themeda triandra) bestaande uit verskillende lote (nommers 1 tot 3 is blare volgens ouderdom op ‘n spesifieke loot) Figuur 2. Groeipunt van rooigras (nommers 1 tot 7 is blare volgens ouderdom) Die gebied op die loot/stingel waar die blaar en laterale knop vasgeheg is, word die knoop genoem (Figuur 2). Die groeipunt van die grasloot, wat net bokant die grondoppervlakte geleë is, kan as die beheersentrum beskou word en is vanwaar nuwe blare ontwikkel (Figuur 2). Die groeipunt bestaan uit ‘n apikale meristeem met die jongste selle, die sogenaamde promeristeem aan die punt. Jong blare ontstaan as klein swellings op die groeipunt, ontwikkel later tot voue en hierdie voue ontwikkel verder tot blare, afwisselend langs die as van die groeipunt. Hierdie vroeë stadium van ontwikkeling (voue) staan bekend as die primordia. Nuwe graslote ontstaan as ‘n klein groeiknop in die oksel van ‘n basale blaar op die kroon van die plant, naby of net onder die grondoppervlakte. Elke sekondêre