Agri Kultuur January / Januarie 2016 | Page 32

Prof Hennie Snyman Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT D aar bestaan steeds onduidelikhede en variërende menings rondom die lengte van ‘n beweidingsperiode van ‘n kamp gedurende die groeiseisoen, sonder om groeikragtigheid van die weiplante te benadeel en volhoubare produksie te handhaaf. In die verlede was daar baie menings rondom die ideale besettingsperiode van ‘n weikamp wat soms gekoppel word aan byvoorbeeld ‘n tweede byt aan die graspolle wat nie mag plaasvind binne ‘n beweidingsperiode nie. Baie navorsers huldig ook die mening dat sekere nadelige effekte van beweiding op die plant wel weer vinnig opgehef kan word met ‘n lank genoeg rusperiode ingebou in die bestuurstelsel. Die vraag wat opgelos moet word is watter interaksie van intensiteit en frekwensie van beweiding/ontblaring die volhoubaarste vir groeikragtigheid van die weiplante vir verskillende veldtipes en onder droogte toestande mag wees. Rooigras (Themeda triandra) wat die hoogste bydrae tot diereproduksie in Suid-Afrika lewer, naamlik 50% tot beesvleisproduksie vanaf natuurlike weiveld, is as voorbeeld gebruik in ‘n ontblaringstudie wat in die volgende reeks artikels aangebied gaan word. Die studie wat in die glashuis uitgevoer is, het twee intensiteite van ontblaring ingesluit naamlik 25 en 50 mm hoogtes. Die keuse het spesifiek op hierdie ontblaringsintensiteite geval aangesien skape wat lae stratum beweiers is, grasse tot ‘n hoogte van 25 tot 200 mm kan afwei (gemiddelde weihoogte is 100 mm). Beeste is diep stratum beweiers wat grasse tussen 50 tot 1 000 mm hoogte (gemiddelde weihoogte is 300 mm) afwei. Die behoefte aan bestuursvaardigheid neem toe namate die grootte van die dier afneem, ten einde vir toenemende selektiewe ontblaring te kompenseer. Gewoonweg beteken dit dat die vermoë om selektief te ontblaar omgekeerd tot diergrootte varieer. Bogenoemde 25 mm en 50 mm wat as die laagste vreethoogtes geïdentifiseer is vir onderskeidelik skape en beeste, kan slegs as algemene riglyne vir strawwe ontblarings beskou word. Prakties ge- sproke vreet skape en beeste grasse wel korter indien beskikbare plantmaterial beperkend raak. Die ander aspek wat ingedagte gehou moet word is dat skape en beeste ook nie grasse sondermeer met die eerste benutting tot ‘n spesifieke hoogte sal ontblaar nie, aangesien dit ook ‘n funksie van die grasse se beskikbare blaaroppervlakte (hoogte) is. Onder sekere omstandighede kan beeste wel net so selektief vreet en plante ook baie kort ontblaar soortgelyk aan die van skape. Die frekwensies van ontblaring het ingesluit weekliks, elke 2, 4, 6, 8 en 12 weke van ontblaring. Die intensiteite en frekwensies is in interaksie met mekaar uitgevoer. Met hierdie studie het die klem grootliks geval op die impak van ontblaring op wortelgroei en -produksie. Nadat die grasse tot die onderskeie intensiteite en frekwensies van ontblaring onderwerp was, is sekeres toegelaat om weer te herstel sonder verdere ontblarings ten einde die hersteltempo te kwantifiseer en word in ‘n latere artikel volledig bespreek.