Agri Kultuur January/ February 2015 | Page 40

Fig. 2. Gesonde (links) en swambesmette (regs) hawerluis, Rhopalosiphum padi (Fotos: JL Hatting, LNR-KGI) ‘n Nuwe navorsingsveld is die gebruik van hierdie swamme in kombinasie met chemiese insekdoders. Die chemiese middel word teen ‘n lae dosis saam met die biologiese middel gemeng en toegedien. Die lae dosis insekdoder maak nie die insek dood nie, maar veroorsaak genoegsame stres om die insek meer vatbaar te maak vir die swam. Sodoende word minder gif in die omgewing toegedien wat verlaagte besoedeling/residue beteken, terwyl die kanse vir die ontwikkeling van weerstand (minder seleksiedruk op die insekte) ook beperk word. Indien hierdie benadering vroeg in die seisoen gevolg kan word, bestaan die moontlikheid dat die swamsiekte in die populasie sal vestig wat toekomstige chemiese bespuitings kan beperk. ‘n Bewese finansiële besparing kan hierdeur bewerkstellig word. Proewe deur die LNR-KGI het reeds getoon dat insekdoders soos pirimikarb, sipermetrin en asetamiprid vereenigbaar is met sekere isolate van Beauveria bassiana, Metarhizium anisopliae en Nomuraea rileyi; en selfs in sommige gevalle vegetatiewe groei stimuleer. Opvolg proewe waar slegs 5% (van aanbevole dosis) van ‘n sistemiese insekdoder met die swamme M. anisopliae en B. bassiana teen die hawerluis (Fig. 2) getoets was, het mortaliteit met 23% en 44%, onderskeidelik, toegeneem. Hierdie sinergisme kan heel moontlik ingespan word om nie net die effektiwiteit van die swamme te verbeter nie, maar om ook hul werking te stabiliseer. Sinergisme tussen twee klaarblyklik oponerende beheerstrategiëe kan tot voordeel van die produsent ingespan word om insetkostes te verlaag terwyl die impak op die omgewing tot ‘n minimum beperk word. In kombinasie, vul die twee strategiëe dus mekaar aan. Opsommend dus, kan hierdie strategie vorentoe gebruik word om (1) die ontwikkeling van weerstand teen chemiese insekdoders by insekte beter te bestuur, (2) die hoeveelheid insekdoder wat in die omgewing gebruik word te verminder, (3) die impak op natuurlike vyand e te beperk, en (4) laer vlakke van chemiese residue te bewerkstellig (veral waar insekprobleme na aan oestyd ondervind word). Plaaslike produsente word deesdae al hoe meer gekonfronteer deur verteenwoordigers van maatskappye wat daarop aanspraak maak dat ‘n nuwe biologiese of organiese insekdoder nou op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is. Alhoewel baie van hierdie produkte een of ander ‘organiese’ sertifisering dra, moet produsente daarop let dat alle insekdoders, hetsy chemies of biologies, onder die Suid-Afrikaanse Landbouwet 36 van 1947 geregistreer moet wees, alvorens verkope daarvan wettig is. Registrasie onder hierdie wet behels dat ‘n unieke “L” nommer aan die produk toegeken word. Produsente kan daarop aandring dat hierdie “L” nommer aan hulle uitgewys word. Aangesien effektiwiteitsproewe as deel van die registrasie uitgevoer moet word, bied registrasie aan die kliënt ‘n mate van sekuritiet dat die middel/produk wel werk. Produsente kan gerus ‘n kopie van ‘A Guide For the Control Of Plant Pests’ by die Departement van Landbou aankoop (Direktoraat Kommunikasie, P/Sak X144, Pretoria, 0001), waarin alle geregistreerde insekbeheermiddels verskyn. ‘n Verkorte weergawe is ook op die internet beskikbaar by: http://www.nda.agric.za/doaDev/ sideMenu/ActNo36_1947/AR/ Insecticides.htm Die webtuiste http://www.croplife.co.za kan ook gebruik word om hierdie inligting te bekom. Vir verdere navrae kontak gerus vir Dr Justin Hatting by [email protected] of tel (058) 307 3468.