Agri Kultuur January/ February 2015 | Page 38

Artikel deur Dr JL Hatting & Me Nokulunga Mzimela LNR-Kleingraaninstituut W êreldwyd, neem die aanvraag na biologiese insekdoders vining toe en word gedryf deur die ontstaan van weerstand by insekte teen chemiese middels, probleme met chemiese residue (veral op uitvoer-kommoditeite), omgewingsbesoedeling, nadelige impak op natuurlike vyande (bv. skilpadkewers) en gesondheidsrisiko’s by plaaswerkers wat chemiese middels moet toedien. Hierdie faktore lei selfs tot die periodieke onttrekking van chemiese plaagdoders uit die agrochemiese bedryf. Suid-Afrika word ook geraak met die onlangse onttrekking van monocrotophos (2005), chlorpyrifos (produkte vir huis-gebruik; 2010), endosulfan (2012) en aldicarb (2012). Dit is belangrik om daarop te let dat die doel van biologiese beheer, nie soos in die geval met chemiese beheer, die uitwissing van die plaagpopulasie is nie, maar wel om die populasie onder die skadelike drempelwaarde te hou. Daar word dus gestreef na ‘n balans tussen die plaag en sy natuurlike mortaliteitsfaktore in ‘n gegewe omgewing. Biologiese beheermetodes sluit ‘n hele verskeidenheid opsies in, waaronder feromone, afweer- en antivoedingsmiddels, natuurlike vyande, asook biologiese ‘toksiene’, resorteer. Onder natuurlike vyande word algemeen verwys na die drie “P’s”, nl. patogene, predatore en parasitoïede. Insekte, net soos mens en dier, is ook vatbaar vir verskeie siektes wat veroorsaak word deur swamme, protozoa, virusse, en/of bakterieë. Hierdie mikro-organismes staan bekend as patogene. Patogene kan as ‘n aktiewe bestandeel in ‘n biologiese insekdoder gebruik word, m.a.w. die middel word gebruik om ‘n siektetoestand by die insekplaag te bewerkstellig. Net so, kan voordelige insekte (predatore en/of parasitoïede) as ‘produkte’ verkoop en in massa vrygestel word. Die mees omvattende publikasie in hierdie verband is ‘The Manual of Biocontrol Agents’ wat nou ook aanlyn beskikbaar is. (www.bcpcdata.com) Voorbeelde van aktiewe bestandele wat as lewendige entiteit (patogeen) in Suid-Afrika geregistreer en bemark word, sluit die twee swamspesies Beauveria bassiana en Metarhizium anisopliae in. Beide hierdie twee swamme word as lewendige spore geformuleer en bemark. Navorsing by die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) op Bethlehem fokus nou op die integrasie van hierdie patogene en chemiese insekdoders teen insekte soos die Russiese koringluis (Diuraphis noxia) en hawerluis (Rhopalosiphum padi) op koring. Plantluise is veral vatbaar vir infeksie deur swamme met sowat 6 swamspesies wat algemeen plantluise in Suid-Afrika in- fekteer. LNR-KGI het oor die afgelope paar jaar meer as 400 isolate van hierdie voordelige swamme geïsoleer. Die swam produseer duisende klein spore wat in die omgewing vrygestel word en dan in aanraking kom met die insek. Onder gunstige toestande kiem die spoor (net soos ‘n saadjie van ‘n plant) en penetreer dan die insek. Die swam veroorsaak aanvanklik ‘n vermindering in die insek se eetlus (indirekte beheer; na sowat 2-3 dae) en uiteindelik vrek die insek a.g.v. fisiese skade aan interne organe en/of die produksie van toksiene (gewoonlik na so 5 dae). Die swam koloniseer dan die insek en produseer miljoene spore op die kadawer se oppervlak wat deur ander insekte, wind en/of reën in die omgewing versprei word. ‘n Gesonde insek wat met hierdie spore in aanraking kom raak weer siek en die siklus herhaal homself (Fig. 1, hieronder). Fig 1 Infeksie-siklus van plantluis met insekswam