Agri Kultuur January/ February 2015 | Page 30

Dr Vlok Ferreira Nasionale Tegniese Bestuurder, Molatek Presisieboerdery met akkerbougewasse raak ‘n al bekender begrip. Dieselfde beginsels kan met groot welslae deur veeboere gebruik word, maar net soos by akkerbou, verg dit fyn bestuur. D aar is groot ooreenkomste tussen presisieboerdery met gewasse en vee. In beide gevalle is die welslae van die onderneming grootliks afhanklik van akkurate en volledige rekords. Maar rekordhouding hoef nie ingewikkeld te wees nie. Hou dit eenvoudig, want dan is dit maklik om dit akkuraat te doen en daarmee vol te hou. Die raakpunte tussen presisieboerdery met gewasse en vee, is:  In ‘n saaiboerdery word die grond gekarteer, die potensiaal bepaal en die bestuur ooreenkomstig aangepas. Dieselfde geld in ‘n veeboerdery;  ‘n Boerderyonderneming waarvan die bestuur en beplanning nie reg is nie, sal geen baat vind by presisieboerdery nie, en  Akkurate en volledige rekords is ‘n voorvereiste om welslae met enige onderneming te bereik. Net soos wat die graanboer sy landerye deur middel van kartering merk om individuele grondtipes en –vrugbaarheid aan te dui, moet die veeboer sy diere merk met ‘n unieke nommer waaraan dit uitgeken kan word. Dit maak dit moontlik om akkurate en volledige rekords van elke dier te hou. Maar ‘n rekordhoudingstelsel dui net aan wat gebeur het. Dit laat nie die koeie kalf nie. Dit is onwaarskynlik dat ‘n enkele bestuursinset wat in ‘n stelsel ingebou word, ‘n verbetering van 20% sal bewerkstellig. Dit is beter om te mik om vier insette in te bou wat elk 5% verbetering tot gevolg het. Dit is makliker haalbaar. Graan en vee het ‘n biologiese produksiesiklus. Vir die saaiboer is daar vasgestelde plantdatums. Hy plant nie heel jaar deur nie omdat toestande nie deurentyd gunstig is nie. Net so kan bulle nie heel jaar tussen die koeie gelos word nie. Bulle kan ook nie plant as die ‘grond koud en droog is’ nie en geslagsiektes nie beheer kan word nie. Soos wat die saaiboer sy plantery deeglik met behulp van akkerboukundiges beplan, behoort veeboere hul diere se dektydperk saam met ‘n veekundige te beplan. Die regte dektyd is wanneer die koei se hoogste voedingsbehoeftes saam val met die tyd van die jaar wanneer die veld se voedingswaarde die hoogste is. In die eerste vier weke ná kalwing is die koei se voedingsbehoeftes relatief laag. ‘n Hoë voedingspeil in die tydperk van vier weke tot 14 weke ná kalwing stimuleer melkproduksie en kalwers wat vroeg in die kalftyd aankom, se speengewig is gewoonlik hoër as die laatkommers. Kalwers