Agri Kultuur January/ February 2015 | Page 21

Artikel en foto’s deur Willem Botha, Netafim Suid Afrika Goeie besproeiingsbestuur is krities in die optimale gebruik van water, grond en energie en verwys na die totale insette nodig ten opsigte van besproeiing – keuse van strategie, beplanning, skedulering en monitering. B esproeiingskedulering is die proses waardeur bepaal word wanneer en hoeveel water besproei moet word. Skedulering kan verfyn word deur gebruik te maak van waterverbruiksmodelle gebaseer op langtermyn of intydse weerdata, grondwatermonitering, gewasmonitering of ‘n kombinasie van voorgenoemde metodes. Om optimaal te kan skeduleer, moet water te alle tye op aanvraag beskikbaar wees. Doeltreffende bestuur en skedulering kan lei tot laer arbeidskoste, laer bedryfskoste, effektiewe gebruik van water en beter opbrengste. Die basis van goeie besproeiingsbestuur word gebou op ‘n strategie. Elke besproeiingsboer moet ‘n strategie hê waarvolgens hy sy besproeiing beplan. Die strategie word hoofsaaklik bepaal deur die wateronttrekking wat toegelaat word, of anders gestel onder hoe -veel spanning die gewas geplaas kan word. Hierdie ontrekkingspeil en/of spanning bepaal dus hoe nat of droog die grondprofiel bestuur word en gevolglik hoe intensief of ekstensief skedulering gaan plaasvind. Met ‘n toelaatbare wateronttrekking van byvoorbeeld 25 %, word bedoel dat die plant toegelaat word om 25 % van die totale beskikbare water uit die wortelsone te onttrek alvorens daar weer besproei word. Daarteenoor dui ‘n 80% onttrekkingspeil ‘n baie droeër strategie aan waar 80% van totale beskikbare water eers onttrek word alvorens besproei word. Die frekwensie van besproeiing word dus deur die tempo van waterverbruik van die gewas asook die onttrekkingspeil waarteen besproei word bepaal. Indien die grond natter of nader aan veldkapasiteit bestuur word, gaan kleiner en meer gereelde besproeiing noodsaaklik wees. Indien die grond toegelaat word om droeër te word, gaan groter besproeiings verder uit mekaar Besproeiingsbestuur noodsaaklik wees. Hierdie strategie kan ook wissel deur die loop van die seisoen afhangende van watter fisiologiese reaksie op die gewas verlang word. Om egter op ‘n strategie te besluit moet die besproeiingsboer kennis van die grond, gewas en al die faktore wat die waterverbruik van die gewas gaan beïnvloed hê. Die belangrikste faktore wat skedulering beïnvloed, is: klimaat, grondwaterhouvermoë, gewas en groeistadium. Klimaat is egter die grootste faktor wat die waterverbruik van ‘n gewas beïnvloed - hoe koeler die klimaat, hoe laer is die waterverbruik. Die mees onderskatte faktore, is die waterhouvermoë van die grond en die wortelomgewing. Dit is belangrik vanuit ‘n skeduleringsoogpunt om kennis te dra van die waterhouvermoë van die grond asook die diepte van die effektiewe wortelsone - daar waar 80% van die wortels voorkom. Sonder hierdie kennis bly skedulering ‘n raaiskoot in die donker. Goeie skedulering begin altyd deur die grawe van ‘n profielgat om die wortelstelsel te evalueer en om die waterhouvermoë van die grond te bepaal. Daarna kan hierdie visuele waarnemings gebruik word om die praktiese skedule te beplan en/