Agri Kultuur December / Desember 2015 | Page 69

Riaan Wassung, keldermeester van die Universiteit Stellenbosch se Welgevallen Kelder, beskryf Chenin Blanc as ‘n gemaklike, vars drinkwyn. Vir sy volgende Die Laan-reeks beplan hy ‘n voller, ryper styl. Hy verduidelik dat die eindproduk alles afhang van watter styl van voorbereiding ‘n wynmaker gebruik, en of die wyn enige hout- of gismoerkontak gehad het. Welgevallen Kelder se eie Die Laan Chenin Blanc is afkomstig van wingerde van by die drie dekades oud op die Bottelarypad naby Stellenbosch. Dit word teen sowat R50 per bottel verkoop. Daar is egter ‘n Chenin Blanc of twee wat jou sak behoorlik sal skud, omdat hulle afkomstig is van sogenaamde “Old Vines” wingerde wat al aansienlik meer jare in die grond is. Neem byvoorbeeld “Mevrou Kirsten” wat deel is van Eben Sadie se Die Ouwingerdreeks. Die verkoopsprys daarvan is digby R700. Dit word gemaak van druiwe uit 110-jaar oue wingerde, geleë aan die voet van Stellenbosch se Botmaskop. Dis vernoem na die eienaar van die stuk grond waarop dit verbou word, mev Anna Kirsten. Sy is vroeër vanjaar op die ouderdom van 90 jaar oorlede, maar haar naam sal voortleef op die etikette van een van die mees gesogte “Old Vines” Chenin Blancs wat plaaslike te koop is. Goed oor die 40% van Chenin Blanc-wingerde in Suid-Afrika is glo ouer as 20 jaar oud. Van die werklik besonderse “bejaardes” word gelys op Rosa Kruger se webblad “I am Old” (www.iamold.co.za). Dit dui al wat wingerd ouer as 35 jaar oud in Suid-Afrika aan, insluitend sultanadruiwe. Daar’s ‘n spesifieke skaarsheidswaarde én romantiek verbonde aan wyne wat van sulke ou wingerde kom. Party mense sweer dat hierdie wyne werklik spesiale kwaliteite inhou, maar ander kenners reken dis blote bemarkingsfoefies. Juis omdat almal in die bedryf nie saamstem daaroor nie, word navorsing daaroor deur ‘n MScstudent in Wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch, Renée Crous, gedoen. Sy hoop om te kan vasstel of daardie “iets spesiaals” op werklikheid of op verbeelding gebou is, en of mens dit uiteindelik chemies kan analiseer en uitwys. Sy is tans besig met die chemiese en sensoriese analise van veral die mondgevoel van tien Chenin Blancs afkomstig uit wingerde wat minstens 40 jaar oud is. Dis ‘n tydsame proses, want ‘n sensoriese profiel oor presies hoe dit proe, ruik en lyk is nog nooit voorheen vir enige Suid-Afrikaanse “Old Vines” Chenin Blanc-wyne saamgestel nie. Mondgevoel, so vertel Renée, behels dikwels moeilike konsepte en dis ingewikkeld om ‘n paneel mense op te lei om dit te analiseer. Sy spandeer ook heelwat tyd in die laboratorium om die chemiese samestelling en inhoud van dié tienstuks wyne vas te stel, asook watter chemiese komponente juis vir die spesifieke mondgevoel-aspekte van die “Old Vines”-wyne verantwoordelik is. Haar navorsing word deur die Chenin Blanc Vereniging ondersteun. Haar studieleier is dr Hélène Nieuwoudt van die Universiteit Stellenbosch se Departement Wingerd- en Wynkunde. Om Die Laan Chenin Blanc te bestel, kontak Riaan Wassung ([email protected]) of besoek die Facebook blad “Die Laan Wines”.