Agri Kultuur December / Desember 2015 | Page 6

Artikel deur Dr Gerhard H Verdoorn Griffon Gifinligtingsentrum Photo: Chris Kriel B iodiversiteit is ‘n omskrywende woord vir die verskeidenheid van lewensvorme in die natuur. Dit sluit die diere soos soogdiere, reptiele, voëls, paddas, visse en ongewerweldes in sowel as die plante, virusse, bakterieë, ligene en verwante organismes. Mense besef dit selde, maar dit is juis biodiversiteit wat die lewe op aarde aanmekaar hou. Ongelukkig is die mens besig om die biodiversiteit en ook die kwantiteit daarvan ernstig te knou met sy massiewe bevolking en hebsug. Groot dele van die Suid-Afrikaanse landskap is in die afgelope dertig jaar in wildsplase omgeskakel. Dit was as gevolg van toegewings in verskillende wetgewing wat vir grondeienaars ‘n bepaalde eienaarskap van wilde diere gegee het. Plase waar vantevore net vee geloop het, het stadig maar seker weer ‘n goeie inspuiting wild gekry. Daar is vandag meer wildsbokke in Suid-Afrika as 100 jaar gelede. Photo: Chris Kriel Vrylopende koedoes en selfs elande is al in distrikte waargeneem waar mense nooit geglo het dat hulle ooit weer sulke wild sou sien nie. Die wildplaaseienaars wat hul plase soos reservate bestuur en waar die wild hulle eie gang gaan, is die kern van ‘n gesonde wildbevolking in Suid-Afrika. Nie alleen is dit voordelig vir jagters nie, maar daar is ook toenemend opinies dat die biodiversiteit op sulke plekke aan die herstel is. As mens so in die jagveld beweeg en jy hou oë en ore oop dan vertel die veld vir jou ‘n storie van klein suksesse. Die kleinwild soos hase, klein bokkies, klein roofdiere, knaagdiere en reptiele is weer terug na ‘n lang afwesigheid bloot omdat die veld meer natuurvriendelik bestuur word. Kleintyd in die Karoo was steenbokke so skaars soos hoendertande maar deesdae is hulle ‘n algemene gesig op plase. Langsaan op die ekstensiewe veeplase gaan dit ook nie te sleg nie. Net soveel kleinwild en grond- lewende voëls word ook daar waargeneem. Sommige boere se asems slaan weg as hulle die eerste keer in veertig jaar ‘n klompie aasvoëls by ‘n skaapkarkas sien. Bloukraanvoëls op die Karoovlaktes word met ope arms verwelkom en selfs die ouer garde kan beswaarlik glo hoe wyd die bloukrane weer loop. Dit is nou maar eenmaal so as die mens sy intervensie in die natuur verminder, dan reageer Moeder Aarde baie vinnig met ‘n toestroming van spesies. Dis asof die mens beloon word. Vir my persoonlik lê die beloning daarin as ‘n ekstensiewe vee- of wildboer my skakel met die goeie nuus dat daar weer weerwolwe of gompoue op die plaas is. Dis asof die aankoms van ‘n lang verlore spesie die grondeienaar nuwe hoop gee. Ongelukkig is daar neigings om al wat wildsbok is op kamp te hou en daarmee te teel soos wat ons met skaap en bees maak. Erger nog is dat meeste skape en beeste ten