Agri Kultuur December / Desember 2015 | Page 36

Artikel deur Jacques Jansen van Vuuren, Tegniese Bestuurder, RCL FOODS D it is veral in vandag se tyd belangrik om die natuurlike hulpbronne wat op jou plaas tot jou beskikking is, ten volle te benut sonder om dit agteruit te laat gaan. Dit kan gedoen word deur met skaap en bees te boer. Nie net sal hierdie praktyk jou weidings beter benut nie, maar dit sal ook jou risiko verdeel tussen selfs drie markte, naamlik beesvleis, skaapvleis en wol. ‘n Ekstra bonus is dat veral die skape se parasietlading tot ‘n mate beheer kan word. Meeste weidingstelsels laat toe dat daar kampe vir ‘n sekere tydperk gerus word, wat beteken dat die gras redelik hoog gaan uitgroei voordat dit benut gaan word. Skape hou nie daarvan om in lang gras te wei nie, dus sal dit dan beter wees om jou beeste eers in daardie kampe in te jaag. Sodra die hoogte van die gras daardie kampe +/- 250mm is, kan die skape ingejaag word Die skape sal die gras nou bewei en as die weiding so 50mm hoog staan, kan die skape onttrek word om na ‘n nuwe kamp te gaan. Beeste verkies gras wat langer is, dus kan beeste ingejaag word as gras te lank is vir skape om te wei en dan weer onttrek word as die gras op die skaap se weilengte is, waarna die skape ingejaag kan word. Die beeste word nou weer na ‘n kamp met langer weidings geskuif om dit weer korter te vreet vir die skape wat volg. Waar kampe saam deur skape en beeste bewei word, moet daar aandag gegee word aan die tipe lek wat verskaf word. Sekere lekke is net vir beeste, sekere lekke slegs vir skape en ander vir beide skaap en bees. Dit is heel maklik om beeste van ‘n skaaplek af weg te hou, maar nie om skape van beeslek af weg te hou nie. Dit word dus aanbeveel om beeste wat slegs op ‘n beeslek is, apart in ‘n kamp te hou. Skaaplek kan binne ‘n tipe kruiphok geplaas word, waar slegs die skape kan deurpas en dus sal net die skape toegang hê tot die lek. Beeste is grootliks onselektiewe vreters wat beteken dat hulle die kampe meer eweredig bewei as skape. Dit hou die onsmaaklike grasse tot ‘n mate onder beheer. Skape is weer meer selektief, en as hulle vir te lang periodes in ‘n kamp gehou word, is daar die gevaar dat sekere dele oorbewei gaan word (smaaklike grasse) en ander areas onderbewei (onsmaaklike grasse). As dit moontlik is, kan kampe opgedeel word in smaaklike en onsmaaklike grasse om sodoende veral skape te dwing om die minder smaaklike grasse te vreet.