Afhangende van bogenoemde word die voeding so
aangepas sodat die regte teikenmassa of groeitempo
gehandhaaf word. Dit verseker ‘n koste effektiewe
aanvulling sonder dat sekere diere oorvoer of onder
voer word.
4.
Besluit korrek wanneer om te begin voer. Op die
vraag: “Wanneer moet ek begin voer?” sal die teoreties
korrekte antwoord wees: “Sodra die ooi begin om
massa te verloor.” Met lae wins marges is dit egter
onekonomies. Die gebruik van liggaamsreserwes speel
dus ‘n belangrike rol in die besparing van voerkoste.
Daar moet egter die korrekte balans gehandhaaf word
tussen die hoeveelheid voeding wat die ooi ontvang en
die aanwending van vet reserwes vir energie. Die
oormatige benutting van vetreserwes in laatdragtigheid
lei tot domsiekte. Daarom moet die benutting van
vetreserwes eerder in vroeë laktasie aangewend word.
Afhangende van die liggaamsmassa en –kondisie van
die ooi in vroeë laktasie, moet volwasse ooie wat
enkelinge soog nie meer as 4 % en dié wat tweelinge
soog nie meer as 7 % in liggaamsmassa verloor om
optimum produksie en toekomstige reproduksie te
verseker. Jongooie wat een en twee lammers soog
mag onderskeidelik 2 en 3 % massa verloor, omdat
hulself ook nog groei en dan nie sonder baie hoë vlakke
van aanvullende voeding hul paringsmassa kan bereik
die volgende seisoen.
5.
Verskaf ‘n aanvulling met die korrekte
voedingstof samestelling. Dit verseker ‘n verhoogde
weidingsinname en ‘n meer doeltreffende benutting
daarvan. Proteïen is die mees beperkende nutriënt in
droë weiding of oesreste. In vergelyking met energie is
proteïen gewoonlik die duurder komponent van die
aanvulling. Tydens aankope moet die koste per
kilogram proteïen tussen bronne vergelyk word en nie
slegs die koste per kilogram voer nie, asook die doel
waarvoor die proteïen benodig word byvoorbeeld om
slegs ruproteïen benodighede aan te vul of om
hoofsaaklik deurvloeiproteïentekorte hoofsaaklik aan te
vul.
Normaalweg neem die koste per kilogram proteïen af
soos die persentasie proteïen in voerbronne toeneem,
maar is ook nie altyd die geval nie. Verskille in proteïen
kwaliteit tussen voere in terme van deurvloeiproteïen,
moet egter ook in aanmerking geneem word by die
prys. Byvoorbeeld die deurvloeiproteïen in soja
oliekoek en katoen oliekoek is onderskeidelik 38% en
40% ongeveer en die aminosuur samestellings verskil
ook.
6.
Verminder die frekwensie van energie byvoeding.
Met die daaglikse aanvulling van veral groot
hoeveelhede styselryke aanvullings vind vervanging van
die weiding plaas. Skape presteer beter op sulke
byvoeding indien dit slegs elke 2de of selfs 3de dag
verskaf word. Die ongereelde verskaffing van groot
hoeveelhede graanryke aanvullings kan egter lei tot
spysvertering steurnisse en selfs suurpens. Beide arbeid
en vervoer kostes word ook verminder. Die daaglikse
aanvulling van proteïen, vitamiene en minerale lewer
egter beter resultate.
Koop voere op grootmaat aan. Boere kan ook vir beter
pryse beding indien hulle gesamentlike aankope op ‘n
groter skaal doen. Tradisioneel is grane en oliesade
(dus die oliekoek ook) die goedkoopste gedurende
oestyd en moet aankope gedurende hierdie periode
geskied. Direkte plaas aankope skakel ook silo
opbergingskoste uit. Kontantvloei probleme kan egter
veroorsaak dat vooruit aankope op grootskaal nie
ekonomies sal wees nie.
Voerkostes wat ‘n direkte invloed het op die ooi se
produktiwiteit moet met omsigtigheid geëvalueer
word. Koste effektiewe aanvullende voeding
gekombineer met die korrekte teling en
gesondheidsbeheer program is ‘n vereiste om produksie
doelwitte te kan bereik en ekonomies te oor leef.