Agri Kultuur December / Desember 2015 | Page 32

Dr Vlok Ferreira Nasionale Tegniese Bestuurder Herkouers, RCL FOODS ANIMAL FEEDS BUSINESS UNIT Indien boere nie goeie beplanning toepas kan aanvullende voeding die grootste enkele koste faktor binne hul skaapboerdery verteenwoordig. Deur aan die volgende faktore aandag te gee kan voerkostes in die strawwe ekonomiese tye wat boere tans beleef ‘n groot besparing bewerkstellig. 1. Die kritieke voedingstadiums (laat dragtigheid en laktasie) in die reproduksiesiklus van die ooi moet saamval met die tyd van die jaar wanneer die meeste aangeplante weiding of natuurlike weiveld beskikbaar is. Indien bogenoemde nie in aanmerking geneem word by bestuursbesluite kan dit direk lei tot ‘n verhoogde koste en ‘n minder effektiewe aanvullende voedingsprogram. Bemarkingsdatums vir bv. slaglammers moet egter hiermee versoen kan word. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die seleksie vir meerlinge die voedingsbehoefte van die ooi laat styg en die gevoeligheid van voedingspanning laat toeneem. ‘n Styging in die aantal meerlinge of die verkorting van die laminterval sal hoër voedingsbehoeftes of ‘n verskuiwing van die spesifieke behoeftes na ander tye van die jaar veroorsaak. Dit is egter belangrik dat die voeding van die ooi oor ‘n jaarbasis beskou word en nie as individuele produksiestadiums in isolasie nie. Deur aan die korrekte voedingsbehoeftes van die ooi te voldoen verseker die boer ‘n ekonomiese lampersentasie, speenpersentasie, groeitempo by lammers en wolproduksie. 2. Voorkom oorbeweiding te alle tye. Die doel van aanvullende voeding is om slegs voedingstof-tekorte in die weiding aan te vul om sodoende die dieet meer gebalanseerd te maak. Sekere genotipes is ook beter aangepas in ‘n spesifieke omgewing wat tot laer vlakke van aanvullende voeding kan lei, indien enige nodig. 3. Verdeel ooie in groepe volgens hul aantal fetuses, aantal lammers wat soog, ouderdom van ooie (volwasse of jongooie) en liggaamskondisie.