Agri Kultuur December / Desember 2015 | Page 30

Gawie van Wyk, NWKV Produksie Adviseur M nr Gys van Wyk, van die plaas Goraas in die Carnarvon distrik, boer al vir 33 jaar met merino’s. Hy is die vierde geslag op Goraas en daar is nog net met merino’s daar geboer. Die reënval in die streek is gemiddeld 190 mm per jaar, wat hoofsaaklik in die herfs voorkom. Om hierdie rede word sy ooie in November gepaar sodat die ooie in die herfs lam wanneer die veldtoestande beter is. Daar word baie gekonsentreer op die voorbereiding van sy ooie en ramme voor paring, sodat hulle in ‘n goeie kondisie kan wees. Hy paar sy ooie net eenkeer per jaar. Met die jare het hy besef hoe belangrik dit is om spesiale aandag aan sy jong speenooilammers te gee en die voordele wat dit inhou. Sy lammers word in Augustus op vier maande ouderdom gespeen. Die lammers word vier weke voor speen ge-ent en gedoseer, omdat hy glo dat die lammers dan beter weerstand opbou. Omdat hy in klein kampies lam en die ooie byvoeding tydens lam kry, leer die lammers al vroeg om voer te vreet. Sy hamellammers verkoop hy na speen aan die voerkrale en hamelboere. By speen gooi hy ongeveer 5% van sy ooilammers met ooglopende bouvorm- en wolfoute uit. Die res van die ooilammers word dan in spaarveld geplaas, waar hy hulle ‘n hoë-proteïen lek teen 200 gram/dag ontvang. Op daardie stadium weeg sy ooilammers ongeveer 31kg. Daar word volgehou met die byvoeding totdat dit in die herfs goed gereën het, waarna die byvoeding verminder word of selfs gestaak word, afhangende van die veldtoestande. Hierdie jongooie word nie geklas nie, maar kry almal ram in die volgende November, wanneer hulle dan 19 maande oud is. Koggelramme word vir 10 tot 14 dae by die jongooie gesit, waarna hulle met 4% volwasse ramme gedek word. Die ooitjies kry ‘n Vitamiene A en minerale toediening ‘n maand voor paring. Wat is die voordele van hierdie praktyke?  As gevolg van die byvoeding groei sy ooitjies konstant  Die ooitjies bereik die regte paargewig voor paring en is in ‘n goeie kondisie  Die speenskok met speen is baie minder  Minder vrektes as gevolg van die hoër weerstand wat opgebou kan word teen siektes  Beter en gesonder wolgroei  Hoë besetting van tussen 92% en 95%  Die persentasie meerlinge is hoër by jong sowel as volwasse ooie Na paring word die ooitjies vir dragtigheid gesonar. Alle droë ooitjies word uitgeskot. Alle ooie wat nie lam nie of hul lammers verloor, word uitgeskot. Omdat hy elke jaar meer as genoeg vervangings ooie het, verjong sy kudde. Die jonger kudde bring mee dat hy gesonde wolgroei en opbrengs kry. Sy volbek ooie wat vervang word, is gewoonlik relatief jonk en is daar ‘n goeie mark vir hulle. Die opmerking is aan Gys gemaak dat dit lyk of hy nie veel klem op wol lê nie. Sy antwoord is, nee, hy skeep nie sy wol af nie, want hy glo dat as jy gereeld die regte hoë gehalte ramme aankoop en self teel, maak hulle ‘n groter bydrae om sy wolgehalte te verhoog as om ooie onnodig te vroeg uit te klas op woleienskappe. Dit is belangrik dat die ooi ‘n lam produseer en grootmaak. Tydens skeertyd sal hy ooie wie se wol erg afwyk ten opsigte van gehalte en hoeveelheid, merk en uitskot, maar hy sê dié persentasie is baie min. Ten slotte sê hy dat die koste daaraan verbonde om sy jongooitjies goed uit te groei, is minimaal in vergelyking met die voordele daaraan verbonde.