Agri Kultuur August / Agustus 2016 | Page 44

Arnand Stofberg Boshoff Visser Foto: Chris Kriel D ie bestuur van risiko is een van die belangrikste sakebeginsels in enige onderneming en veral in die landbou kan gebrekkige risiko bestuur tot ‘n onderneming se ondergang lei. Dit is wel waar dat groter risiko gepaardgaan met groter potensiële opbrengs op belegging, maar die risiko moet steeds bestuur word om die nadelige uitwerking van onverwagse gebeure tot die minimum te beperk. Die hoofgroepe van risiko in die landbou wat bestuur moet word is die risiko verbonde aan bates, die risiko verbonde aan oeste, finansiële risiko, en die risiko van aanspreeklikheid. Risiko verbonde aan bates: Dit bestaan uit die risiko van brand of diefstal by geboue, die inhoud van geboue, voertuie en implemente en word hoofsaaklik deur versekering aangespreek. Die belangrikste is om seker te maak dat die bates teen realistiese vervangingswaardes verseker is. Indien bates onderverseker is sal die produsent self ‘n groot deel van die koste van vervanging moet dra en indien die bates oorverseker is betaal die produsent onnodig te hoë premies aangesien die versekeringsmaatskappy net die vervangingswaarde van die bate sal uitbetaal en nie die versekerde bedrag nie. Dit is ook belangrik om te let op die fynskrif van die versekeringskontrak aangesien daar soms baie vereistes is waaraan die produsent moet voldoen ten einde ‘n geldige eis te hê. In die geval van diefstal waar voertuie nie snags in ‘n toegesluite gebou gestoor was nie, of waar daar nie diefwering of ‘n alarm geїnstalleer was by ‘n gebou waarvan die inhoud gesteel is nie, of by brandskade waar elektriese bedrading nie gereeld inspekteer is nie, kan die versekeraar byvoorbeeld weier om die eis te betaal. Risiko verbonde aan oeste: Dit is die risiko dat hael, wind of reën oeste beskadig, dat ongewenste weersomstandighede tot verhoogde siektedruk lei of dat droogtes kan voorkom. Oesversekering kan uitgeneem word om die skade wat hael, wind of reën aan oeste aanrig te dek. Haelnette en windlanings kan ook die risiko van hael en windskade beperk, maar haelnette is baie duur en windlanings bied net beperkte