AGRI KOMBUIS / KITCHEN Agri Kitchen / Agri Kombuis 2016 | Page 99

Melkpoeding met marsepein en vanielje Resepte: Arina du Plessis Foto’s: Neville Lockhart MMmmmmmm....melk Melk is een van die natuur se wonderkosse. Heerlik en heilsaam net so op sy eie, maar ook die beginpunt van alle ander suiwelprodukte soos botter, kaas en roomys. En onontbeerlik in elke kombuis, want met melk maak jy die lekkerste kos – koesterkos soos melktert en melkkos, delikate nagereg en gebak, maar ook vinnige maaltye. Kom loer in by Agri-Expo Livestock 2014 en ervaar melk van die speen tot die spens. In die Woolworths Suiwelspens gaan kundiges jou handige wenke tydens vermaaklike demonstrasiesessies gee. Melkjellie is ʼn ligte nagereg, net reg vir hierdie tyd van die jaar. Die sagte geure van amandel, heuning en vanielje pas perfek by die delikate tekstuur van die jellie. Sit dit voor met vrugte wat in ʼn ligte stroop geprut of in die oond gebak is – ek het gedroogte appelkose en vars appelliefies in ʼn bietjie heuning en water geprut tot stroperig. 1 liter volroommelk 1 vanieljepeul, middeldeur gesny en uitgeskraap 15-20 ml gelatien 30 ml koue water 125 ml heuning 30 ml fyn gekrummelde marsepein Verhit die melk en vanieljesaadjies tot net onder kookpunt. Sprinkel intussen die gelatien oor die koue water en laat staan tot al die water geabsorbeer is. Verwyder die melk van die stoofplaat en voeg die gelatienmengsel by. Klits liggies met ʼn draadklitser tot opgelos. Roer die heuning en gerasperde marsepein by, tot die marsepein opgelos is. Giet die mengsel deur ʼn sif (om enige stukkies onopgeloste marsepein op te vang) in ʼn gesmeerde jellievorm (of individuele vorms) en laat stol in die yskas tot ferm. Keer uit en sit voor. Lewer 6 porsies.