AGRI KOMBUIS / KITCHEN Agri Kitchen / Agri Kombuis 2016 | Page 74

Ek is lief om sommer net vir die lekkerte iets nuuts in die kombuis uit te probeer. Omdat my wederhelf gluten sensitief is, probeer ek toe sommer ʼn slag Eureka Mills se rogmeel en hul bygaande broodresep aanwysings op die pak. Ek deel dus graag, met volle erkenning aan Eureka Mills, die resep met julle. Dit maak 4 brode. Geniet dit! Chris Bestanddele 2000g Eureka rogmeel 60g Asyn 30g Droë gis 50g Sout 1 460g Water Metode: Meng al die droë bestanddele saam. Voeg water (warm in die winter en kamertemperatuur in die somer) geleidelik by en meng deeglik (voeg ook die asyn by). Knie totdat die gluten ontwikkel het (+ 8minute per hand of + 4 tot 5 minute op medium spoed met ‘n menger). Die deeg is werklik taai en klou aan alles vas, daarom verkies ek om dit in ʼn menger te doen. Gooi die mengsel in ʼn liggeoliede houer, bedek met plastiek (of deksel) en laat toe om te fermenteer vir so 1,5 uur. Maak en vorm die porsies na behoefte en plaas in/op ʼn geoliede bakplaat of broodpannetjies. Bedek met plastiek en laat staan vir ʼn verdere + 1 uur in ʼn warm trekvrye area. Die porsies behoort tot feitlik dubbel die grootte te rys. Bak @ 180° C vir ± 40 tot 50 minute. Verwyder onmiddellik uit die panne sodra dit uit die oond kom en plaas op ʼn koelrak. Verpak sodra afgekoel en geniet die volgende dag (rogbrood vereis ten minste 24 uur vir die geur om ten volle te ontwikkel). Wenke: Omdat die mengsel so taai is, sukkel jy dikwels om dit te hanteer. Ek het intussen geleer om my hande deeglik met kookolie te smeer alvorens ek met die deeg werk. Ek smeer selfs die spatula met olie. Die olie vergemaklik nie net hantering nie maar help ook baie as jy die deeg moet verdeel en die porsies moet vorm.